Twintig sakelui in die konstruksiebedryf het die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur se kontrakteursontwikkelingsprogram voltooi en sertifikate ontvang.

Altesaam 20 gegradueerdes van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur se kontrakteursontwikkelingsprogram het hul sertifikate die afgelope Vrydag (8 Augustus) by die provinsiale minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, ontvang.

Simmers het op die gradeplegtigheid gesê die kontrakteursontwikkelingsprogram het die afgelope vyf jaar jaarliks gemiddeld 100 kontrakteurs in die Wes-Kaap suksesvol opgelei.

Op dié dag was die Wes-Kaap trots om nog 20 kontrakteurs by die groeiende netwerk te voeg.

Die program oor agt maande is daarop gemik om opkomende kontrakteurs in die ingenieurs- en bou-omgewingsektor te ontwikkel en te bemagtig.

Die program stel kontrakteurs deur middel van geteikende vaardigheids- ontwikkeling en sakeverbeteringsinisiatiewe in staat om in die ope mark doeltreffend en onafhanklik mee te ding.

Charl van Rensburg van Charmel Consulting in St. Helenabaai het aan die program deelgeneem. Hy is al vir jare in verskillende sektore betrokke en konstruksie het vroeg in sy loopbaan ‘n belange rol vervul.

“Ek het al in 2021 vir hierdie spesifieke program aansoek gedoen en dit het vier jaar later eers begin, en nou is ons gekwalifiseer. Die rede is dat ek my eie konstruksiemaarskappy in 2018 begin het. Ek het al projekte van oor die R3 miljoen en meer klaargemaak. Die program het die kontrakteurs gehelp met die regte metodes en uitwerk van materiale, salarisskale en ander belangrike stelsels,” sê Van Rensburg.

“Die verskil wat hierdie program in ons lewens gemaak het, is lewensveranderend vir ons besigheidsgroei in dié multimiljardrandse bedryf en ook dat die Weskus-omgewing, insluitend Free Port Saldanha, ‘n gebied met baie konstruksiewerksgeleenthede is.”

Jayden Simon van Group Six Security Innovations in Saldanhabaai sê hy het van die program gehoor en dit het interresant geklink.

Hy het gehoop dat hy ‘n groter begrip oor die konstruksiebedryf asook die sakewêreld sal kan kry.

“Die deure wat hierdie program vir my oopgemaak het, het al begin wys vandat ek begin het. Agt maande gelede kon ek nie vir jou sê hoe ‘n gebou ontstaan nie, of net die uitset, beplanning en alle werke wat begin, ver voor die eerste gat gemaak is nie, maar deur die program het ek meer begrip oor die konstruksie- bedryf – beter as wat ek ooit op my eie sou kon leer.”

Van Rensburg meen die Wes-Kaapse regering het dit regtig die moeite werd gemaak en almal sien uit na die toekoms.

“Nou is dit in ons elkeen se hande om sukses te behaal,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article