Vredenburgers besoek Trekoskraal tussen Paternoster en Vredenburg al langer as ‘n eeu. Foto: Stef Ash

Munisipaliteit keer Trekoskraal aansoek

Vredenburgers besoek Trekoskraal tussen Paternoster en Vredenburg al langer as ‘n eeu. Foto: Stef Ash

VREDENBURG – Die Saldanhabaai-munisipaliteit het ‘n aansoek om landbougrond naby Vredenburg te konsolideer en onderverdeel, afgekeur weens kommer oor die verlies van ongeveer 70 hektaar produktiewe landbougrond.

Die besluit, wat op 3 Junie 2026 deur Gerhard Botha, die senior bestuurder vir grondgebruik en ontwikkelingsbeheer, uitgereik is, verwys na die voorgestelde konsolidasie van gedeeltes van die Trekos­kraal-plaas tussen Vredenburg en Paternoster (gedeelte 5 van die plaas Noodhulp nr. 35, restant van die plaas Trekossen Kraal nr. 104, restant-gedeelte 1 van die plaas Trekossen Kraal nr. 104 en nr. 961).

Die munisipaliteit het die aansoek geweier op grond van verskeie sleuteloorwegings, insluitend die fragmentasie en verlies van landbougrond, verminderde landbou-lewensvatbaarheid van sekere gedeeltes en teenstrydigheid met landelike en ruimtelike beplanningsbeginsels soos uiteengesit in SPLUMA (Spatial Planning and Land Use Management Act) en LUPA (Land Use Planning Act).

Volgens die uitspraakbrief aan belanghebbende partye het die Wes-Kaapse departement van landbou volgehoue beswaar teen die aansoek gemaak, wat die munisipaliteit se besluit beïnvloed het.

Die herindeling sou ongeveer 70 hektaar grond, wat tans vir weiding en bewerking gebruik word, geraak het.

Beplanners het aangedui dat die voorge­stelde onderverdeling nie met provinsiale riglyne vir landelike gebiede, wat in 2019 uitgevaardig is, strook nie.

Die plaaslike gemeenskap, insluitend inwoners van die aangrensende Nieuwe Rust-woonbuurt, het vroeg in 2025 reeds beswaar gemaak teen die voorgestelde herindeling.

Beswaarmakers het hul kommer uitgespreek oor omgewingsimpak, die verlies van landbougrond, waterskaarste en die uitwerking op die karakter van die landelike gebied.

Die aansoeker het tot Woensdag 24 Junie om appèl teen die besluit aan te teken by Heinrich Mettler, die munisipale bestuurder van die SBM, indien hy of sy ontevrede is met die uitkoms.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 11 June 2026
    Weslander E-Edition – 11 June 2026

Gift this article