Tyremart, ‘n bekende besigheid in Vredenburg, is op Sondagaaand (7 Junie) in vlamme gehul.
Volgens Tereza Burger, woordvoer-der van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), het die Weskus-distriksbrandweerdienste met hul aankoms die brandbestrydingsoperasies aan die SBM-span oorgedra, waarna die span met die bluswerk voortgegaan het.
“Geen beserings is by die munisipaliteit aangemeld nie. Die oorsaak van die brand is nie aan die munisipaliteit bekend nie. Ons kan egter bevestig dat die gebou en twee voertuie skade opgedoen het as gevolg van die brand, hitte en rook,” voeg Burger by.
Volgens Monique Potgieter, mede-eienaar van Tyremart, word die oorsaak van die brand tans nog ondersoek.
“Ons wil nie op hierdie stadium spekuleer oor enige besonderhede nie. Ons fokus is tans daarop om die omvang van die skade te bepaal, ons personeel en kliënte by te staan, en die besigheid so spoedig moontlik weer operasioneel te kry.
“Ons wil graag ons opregte dank uitspreek teenoor die brandweer, nooddienste en alle ander betrokkenes vir hul vinnige reaksie en professionele optrede. Ons is ook ongelooflik dankbaar teenoor die Vredenburg-gemeenskap, kliënte, vriende en familie vir die boodskappe van ondersteuning, gebede en hulp wat ons reeds ontvang het. Dit beteken meer vir ons as wat woorde kan beskryf.”





