Moontlik gesteelde klere en skoene ontdek ná ongeluk by Moorreesburg

Splinternuwe tekkies nog in hul boks, soos dié wat die polisie op die ongelukstoneel gekry het. Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash
Splinternuwe tekkies nog in hul boks, soos dié wat die polisie op die ongelukstoneel gekry het. Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash

MOORREESBURG – ‘n Man wat al in die hof skuldig bevind is daaraan dat hy by ‘n besigheid ingebreek het, verskyn op Vrydag 10 Julie in die Moorreesburg-landdroshof op ‘n ander klagte.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die 43-jarige man verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Hy en sy passasiers, waaronder Ntombothando Sonia Mohamed (33), was Dinsdag 8 Julie omstreeks 19:20 in ‘n botsing met ‘n vragmotor betrokke. Mohamed is in die ongeluk oorlede.
Verkeersbeamptes die beweer dat hulle sowat 15 km buite Moorreesburg op die Riebeek-pad besig was om die verkeer te reguleer, maar die beskuldigde wat die voertuig bestuur het, het hul geïgnoreer en gevolglik in die vragmotor vasgery. Die ander insittendes in die voertuig, twee mans en ‘n vrou moes mediese behandeling ontvang.
Die beskuldigde se bloedalkohol-vlak is getoets omdat daar ‘n klomp drankbottels in die voertuig was.
Die polisiebeamptes het ook splinternuwe skoene en klere nog in hul oorspronklike verpakkings in die voertuig gekry.
Mohamed het ‘n uitstaande hofsaak teen haar gehad rakende die vind van ander splinternuwe klere en drank van meer as R8000, wat op 16 Oktober 2024 by haar en twee ander verdagtes gekry is. Hulle is dié dag omstreeks 19:30 in Langstraat, Moorreesburg, aangekeer omdat hulle nie enige bewyse by hulle gehad het wat kon bewys dat hulle wettiglik die drank en klere gekoop het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article