Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.

Juweldin Prindella (19) van Laaiplek het Maandag 4 Mei in die hof verskyn op ‘n aanklag van moord. Hy en Wallieto Engelbrecht (34) was Vrydagaand 1 Mei in ‘n argument betrokke waartydens Prindella na bewering die oorledene in die rug gesteek en van die toneel in Azaliastraat weggehardloop het.

AJ Engelbrecht (73) het weens komplikasies gesterf nadat hy Vrydagoggend 1 Mei om 03:00 uit sy brandende huis in Albatrosstraat, Noord- hoek in Velddrif gered is. Die omstandighede rondom die brand word ondersoek.

Omstreeks 16:30 op Vrydag 1 Mei is Darika Chama (46) op die toneel op die Holrivierpad (R362), Vredendal dood verklaar. Die omstandighede rakende die strafbaremanslagsaak waarin agt ander mense ook beseer is, word ondersoek.

Graham Snell (47) van Porterville is aangekeer nadat hy op Vrydag 1 Mei om 00:30 sy honde op ‘n 45-jarige vrou in haar huis gesit het, in die hoop dat die honde die vrou en haar dogter sal aanval. Hy het Maandag 4 Mei op ‘n klag van intimidasie voorgekom.

Yonela Mkolo (21) is Saterdagaand 2 Mei om 22:30 met skietwonde aan sy kop en bors in Nikkelstraat, Ongegund, in Vredenburg dood gevind. Die motief vir die moord word ondersoek.

’n 29-jarige man van Vredenburg sal vandees- week in die landdroshof verskyn nadat hy Saterdagaand 2 Mei om 20:15 in Witteklip met ‘n “vuurwapen” aangekeer is. Die nagemaakte vuurwapen, ammunisie en dwelms is in sy besit gevind.

Tussen Donderdag- en Vrydagaand is daar by ‘n huis in Golden Mile in St. Helenabaai ingebreek. Goedere van sowat R24 5000 en die klaer (65) se bankkaart is gesteel. Op Saterdag is inligting ontvang oor waar van die goedere in Stompneusbaai versteek word. ‘n Verdagte is aangekeer en sal vandeesweek voorkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 7 May 2026
    Weslander E-Edition – 7 May 2026

Gift this article