Nog baie inwoners dink met heimwee terug na die ou Meresetijn-restaurant in Hoofstraat, Saldanha, in sy gloriedae. ‘n Menigte spesiale geleenthede is by dié restaurant gevier.

Die gebou het egter erg verval en is gevandaliseer nadat die restaurant in die vroeë jare 2000 gesluit is.
Sedertdien was dit ‘n seer oog met een van die beste uitsigte oor die waters van Saldanhabaai in die dorp.
Goeie nuus is dat die Byers-sekuriteitsmaatskappy bevestig het dat hy dié gebou gekoop het.
Hulle is nog nie op die punt om te sê presies wat met die gebou gaan gebeur en hoe dit daar gaan uitsien nie, maar die dorp is opgewonde oor die vooruitsig dat die lieflike perseel weer in iets bruikbaars omgeskep gaan word.





