‘n Man wat vyftien jaar gelede sy jong vrou voor haar verskrikte minderjarige kinders doodgeskiet en hul ouma in die kop gewond het, is op Maandag 17 Maart in die Clanwilliam-streekhof skuldig bevind aan moord en poging tot moord.
Albert Finana, destyds ‘n werker by ‘n aartappelaanleg, het die Weskus in 2010 geskok met sy middernagtelike orgie van geweld in Lambertsbaai wat tot die dood van sy vrou, Nadia Finana (29), gelei het.
‘n Gewapende Finana het om middernag op Vrydag 30 April 2010 by Nadia se ouers, Lodewyk en Anna Oktober, se huis in Quickview-singel opgedaag. Sy was hul enigste kind.
Nadia het die week vantevore besluit om haar kinders, Nadeeka (toe 5) en Loweano (toe 14), te vat en uit die huis wat sy met Finana gedeel het, te trek. Sy en die kinders het na haar ouerhuis gegaan, waar die treurspel afgespeel het.
Lodewyk het destyds bedroef en verdwaas aan Weslander se susterskoerant, die Swartland Gazette (Monitor), vertel ‘n sestienjarige seun in die huis het gehoor hoe Finana sy pistool buite die huis oorhaal. Die seun het die slagoffers gewaarsku. Die volgende oomblik het Finana ‘n skoot op die hoofslaapkamervenster afgevuur. Die venster het aan skerwe gespat en hy het dit verder oopgetrap. Hy het sy skoonma in dié slaapkamer geskiet en daarna is hy na die slaapkamer waar sy vrou en die twee kinders was.
Loweano het probeer keer dat Nadia die deur oopmaak, maar toe sy oopmaak, het Albert voor haar gestaan en haar in die bors geskiet. Sy is op die toneel dood. Volgens Lodewyk het Albert hierna die vuurwapen op die kombuistafel neergesit en by die huis uitgehardloop. Hy het hom later aan die polisie oorgegee.
Lodewyk het destyds gesê hy was dié Vrydag op see en het die aand in Laaiplek oorgebly. Hy is hier oor die skietery by sy huis in Lambertsbaai gebel. Anna, wie se gesig geskend is ná die aanval, het verwys na die letsels wat die skokkende voorval op hulle almal gelos het – haar fisieke letsel, maar die kinders se emosionele letsels.
Maandagmiddag het Lodewyk, Anna, ‘n volwasse Nadeeka en Loweano, en ‘n groep vriende en familie ná die skuldigbevinding hulle verheug dat daar uiteindelik geregtigheid vir Nadia op pad is.
Sy is as ‘n saggeaarde, liefdevolle mens beskryf. Baie huisvas. Lodewyk het ná die hofverrigtinge gesê hy is baie bly.
“Ek is dankbaar vir die Here dat die saak nou na ‘n einde toe kom.”
Finana is skuldig bevind en sy borgtog van R2 000, wat al soveel jaar gelede aan hom toegestaan is, teruggetrek.
Die saak is uitgestel tot 14 Julie vir vonnisoplegging – meer as vyftien jaar nadat Nadia vermoor is. Landdros John Ehlers hanteer die saak.
Finana dra glo met elke verskyning in die hof die hemp wat hy op sy en Nadia se troue gedra het, tot die familie se ontsteltenis.







