OUDTSHOORN – ’n 39-jarige vrou is tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat sy haar sewejarige seun op haar verjaarsdag verlede jaar dood verwurg het.

Die Oudtshoorn-streekhof het ’n vonnis van 25 jaar, waarvan vyf jaar opgeskort is, aan Drezene Jonkerman opgelê nadat sy skuldig bevind is aan die moord op haar seun, Ashwin Jonkerman. Die hof het gehoor dat Jonkerman die kind verwurg het nadat sy beweer het dat sy die seun se pa se gesig gesien het terwyl sy hom gebad het.

In ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die Staat, het Jonkerman erken dat sy op 11 Augustus 2024 – haar verjaarsdag – besig was om voor te berei om kerk toe te gaan, toe ’n vriend haar huis in Korhaanlaan, Oudtshoorn, besoek het. waarna die twee dwelms gebruik het.

Volgens hofdokumente het Jonkerman, nadat haar vriend vertrek het, Ashton wakker gemaak vir ’n bad. Terwyl sy hom gewas het, het sy begin dink aan die seun se pa, met wie sy “’n baie slegte verhouding” gehad het.

“Sy het die oorledene se pa in haar geestesoog gesien terwyl sy die oorledene gewas het en het baie kwaad geword,” lui hofdokumente. Jonkerman het toe die kind verwurg totdat sy liggaam slap geword het, hom na die slaapkamer gedra, en kerk toe gegaan sonder om mediese hulp te soek.

Ná haar terugkeer vanaf die kerkdiens, het sy toe eers ‘n buurman ontbied waarna ’n ambulans ontbied is. Jonkerman het aan die hof erken dat sy geweet het dat verwurging Ashton se dood kon veroorsaak en ten spyte hiervan, het sy voortgegaan.

Drezene Jonkerman het haar sewejarige seun vermoor.

“Sy het verder erken dat haar bedoeling was om hom dood te maak,” het die hof gehoor.

Tydens haar pleitdooi om versagtende omstandighede, het Jonkerman, wat twee ander minderjarige kinders het, beweer dat haar verhouding met haar eks-kêrel, Ashton se pa, “stormagtig” was – met bewerings van dwelmgebruik, aanrandings en verkragting. Sy het beweer dat sy nooit hierdie voorvalle aangemeld het nie weens finansiële afhanklikheid.

Streekshofaanklaer Goulding Hyron het hierdie bewerings betwis en bewyse voorgelê waar die oorledene se pa die bewerings ontken het en dat geen amptelike sake deur Jonkerman teen haar eks-vriend geopen is nie. Die voormalige kêrel het erken dat hulle albei dwelms gebruik het, maar het verklaar dat Jonkerman se verslawing vererger het tot op die punt waar sy huishoudelike items verkoop het om haar gewoonte te onderhou, wat uiteindelik tot hul skeiding gelei het.

Die hof het ook gehoor dat ’n week voor die moord, Jonkerman aan haar pastoor en werkgewer gesê het dat sy nie kerk kon bywoon nie omdat dwelmhandelaars haar aangerand het oor onbetaalde skulde.

Die hof het beveel dat Jonkerman ten minste twee-derdes van haar vonnis moet uitdien voordat sy vir parool oorweeg word. Daarbenewens is sy onbevoeg verklaar om met kinders te werk na haar vrylating en verbied om ’n vuurwapen te besit.

Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, Advokaat Nicolette Bell, het haar skok uitgespreek oor die “gevoellose moord gepleeg deur ’n moeder op haar eie kind” en die belangrikheid beklemtoon om dwelmmisbruik aan te spreek en die samelewing se mees kwesbare lede te beskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025