Die eerste luiperdwelpies in bykans 200 jaar is onlangs in beeldmateriaal in die Weskus vasgevang, sê die Landmark Leopard and Predator-projek, wat die gebeurtenis as ‘n reusemylpaal in hul voortgesette bewaringspogings van dié roofdier in die streek beskou.
Dié beeldmateriaal van twee luiperdwelpies van sowat drie tot vier maande oud, saam met ‘n volwasse wyfie, is tydens die diens van versteekte kameras opgemerk.
Die deurbraak volg nadat luiperdaktiwiteite reeds vir jare tussen Kaapstad en die Bergrivier gemonitor word om dié roofdiere se terugkeer na die streek beter te verstaan en hulle te help beskerm.
Die projekleier, Bool Smuts, en die Landmark-span beskryf dit as fantastiese nuus vir luiperdbewaring in dié deel van die wêreld, terwyl hy byvoeg dit is nog net die begin van die kwesbare gesin se pad vorentoe. Hy sê die spesie is in die middel-1700’s in die Weskus en die Swartland uitgeroei met die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie wat so vroeg as 1652 met die jag van luiperds begin het, gevolg deur eeue se staatsbeheerde uitwissing. Die laaste luiperds is in die 1930’s in Houtbaai van kant gemaak, terwyl dié roofdier teen die 1840’s reeds aan die Weskus uitgewis is.
Die projek, wat die luiperd se terugkeer na die Weskusstreek sedert 2019 monitor, het deurgaans sporadiese beeldmateriaal van luiperdmannetjies ontvang. “Teen 2022 is die eerste wyfie opgemerk.” Die span het ná vier jaar sonder enige tekens van ‘n werpsel begin bekommerd raak dat sy moontlik onvrugbaar kan wees. Die onlangse beeldmateriaal het alle kommer in die kiem gesmoor. Die deurbraak bou op vroeër suksesstories uit die Piketberg-omgewing in 2024. Onlangse beeldmateriaal van Desember 2025 het ook die teenwoordigheid van minstens vyf individuele luiperds in die gebied tussen Kaapstad en die Weskus Nasionale Park bevestig. Dit was die heel eerste luiperd wat in 170 jaar in die park gewaar is. Die bevinding is moontlik gemaak deur ‘n gesamentlike poging van die Landmark-span, SANParke, die Universiteit van die Wes-Kaap, die Saldanhabaai-munisipaliteit en private grondeienaars.
Wat hierdie herkolonisasie nog meer merkwaardig maak, is die feit dat dié spesie in mensoorheersende produksielandskappe en tussen landbouprodusente se grond opgemerk is, nie in die vrye natuur nie. “Dit is die begin van ‘n herkolonisasieproses, maar ons moet waaksaam bly om die kontinuïteit daarvan te verseker,” sê Smuts. Dit is volgens hom maklik om hulle in hul nuwe habitat uit te roei.
Die deurbraak aan die Weskus en die Swartland is ‘n klinkklare bewys dat die natuur met die regte kombinasie van beleidsverskuiwings, private grondbestuur, staatskapasiteit in bewaring en ‘n groeiende etos van verdraagsaamheid kan herstel.
Die beste wat nou vir die jong familie gedoen kan word, is om hulle alleen te laat, sê die Landmarkspan. “Dit is nie nodig om hulle nou te bestuur nie, behalwe om hulle in vrede te laat en die oomblik te vier.”
Die presiese ligging waar die welpies gewaar is, is nie bekendgemaak nie. “Die welpies is nie net ‘n mylpaal nie, maar die eerste tasbare bewys dat dié topkarnivore hulself natuurlik in een van die land se mees veranderende streke kan hervestig.”





