Diazville Primêr en die Laerskool Saldanha bedank Tekkie Town vir hul ruimhartige skenking van rugbytoerusting en die Saldanhabaai-rugbyklub vir die keuse van die skool as ‘n begunstigde.
Diazville Primêr sê die vriendelikheid en ondersteuning sal ‘n betekenisvolle verskil in die lewens van hul leerders maak.
“Hierdie skenking rus nie net ons jong spelers toe met die nodige hulpbronne om veilig en vol selfvertroue deel te neem nie, maar moedig ook spanwerk, dissipline, deursettingsvermoë en ‘n liefde vir sport aan. Ons leerders kry deur vennootskappe soos hierdie geleenthede om op en weg van die veld af te groei, karakter te bou en vaardighede te ontwikkel, wat hulle tot ver in die toekoms sal dien. Dankie dat julle in ons leerders glo en in hul ontwikkeling belê. Jul bydrae word werklik waardeer en sal ‘n blywende uitwerking op ons skoolgemeenskap hê,” voeg die skool by.





