’n Lid van die polisie se forensiese eenheid sit van die klere in ’n bewysstuksak.


Die polisie het verskeie kledingstukke – onder meer ’n mans-sweetpaktop, ’n kous, ’n verbleikte blou rugsak en ’n stuk van ’n pienk kinder-kledingstuk – vir forensiese toetse weggestuur.

Stukke been is ook by die klere gekry.

Die klere is ontdek nadat inwoners, wat al sedert die verdwyning van Joshlin Smith (6) van Middelpos kla oor ’n drein wat verstop is, uiteindelik die plek in Noordamstraat aan munisipale amptenare en die polisie kon gaan uitwys.

Die inwoners beweer dat hulle die dag nadat Joshlin as vermis aangemeld is, Dinsdag 20 Februarie, een van die mans – wat nou in die beskuldigdebank staan vir mensehandel en ontvoering – by dié betrokke drein gesien het.

Bebloede kinderklere is ook op 2 Maart in Middelpos gekry en ook vir forensiese toetse gestuur.

Joshlin se ma, Kelly Smith (33), haar kêrel, Boeta Appollis, sy vriend Stevano van Rhyn, en ’n buurvrou, Renze Lombaard, staan tereg op aanklagte van mensehandel en ontvoering, wat met Joshlin se verdwyning verband hou. Omdat die hofsaak nou in volle swang is met die viertal wat weer op Maandag 13 Mei in die Vredenburg-landdroshof verskyn, sal die uitslag van die toetse wat nou op die klere gedoen word, in die hof bekendgemaak word namate die saak vorder.

Ten spyte van wêreldwye mediadekking is daar nog geen spoor van die sesjarige graadeentjie met haar grysgroen oë nie; ook nie hoe die laaste paar dae verloop het voordat Kelly haar op Maandagaand 19 Februarie by die Saldanha-polisiekantoor as vermis gaan aanmeld het nie. Dit sal ’n raaisel bly totdat die feite in die hof uitkom.

Appollis, Van Rhyn en Lombaard het bekentenisse afgelê. Wat presies daarin gesê word, sal eers in die hofverrigtinge bekendgemaak word.

Al vier beskuldigdes het hul aansoeke om borgtog laat vaar.

Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het met die laaste hofverskyning op Maandag 25 Maart gesê hy is nie by magte om die uitslag van die toetse bekend te maak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article