Die driemanskap wat daarvan verdink word dat hulle die sewejarige Joshlin Smith ontvoer en verkoop het, se saak kan dalk eerder in Saldanha aangehoor word.

Dié verwikkeling is Vrydag 31 Januarie tydens Joshlin se ma, Kelly Smith (34), se vlugtige verskyning in die Kaapse hooggeregshof genoem.

Smith het alleen in die beskuldigde­bank gestaan omdat haar medebeskul­dig­des weens ’n “administratiewe” fout nie na die hof gebring is nie. Anders as Smith, wat by die vroue-afdeling van die Polsmoor-gevangenis in Kaapstad gaan haal is, word Boeta (Jacquen) Appolis (32) en Steveno van Rhyn (28) in die Malmesbury-gevangenis aangehou.

Die drie kom Vrydag 28 Februarie voor op aanklagte van ontvoering en mensehandel met die doel om uit te buit.

Die staat beweer hulle het saamgespan om Joshlin op Maandag 19 Februarie aan vreemdelinge in ’n wit motor te verkoop. Die geld sou vermoedelik gebruik word om dwelmskuld mee te delg.

Die saak is einde verlede jaar teen ’n vierde verdagte, Renze (Laurentia) Lombaard (32), ’n buurvrou in die Middelpos- informele nedersetting langs Diazville, teruggetrek. Sy gaan na verwagting vir die staat getuig.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het ná die hofsitting aan joernaliste gesê die saak gaan dalk na Saldanha skuif om die Diazville-gemeenskap die kans te gee om die verhoor by te woon.

’n Vergadering om te bepaal waar dit gehou sal word, sal vóór Smith, Appolis en Van Rhyn se volgende verskyning in die hooggeregshof in Kaapstad, plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article