Alida Buckle
“Joshlin, waar is jy? Antwoord my. Kom asseblief terug” en “Wat het hulle met jou gedoen?” – dit is van die vrae wat die ontvoerde en verkoopte Joshlin Smith (7) van Middelpos, Saldanha, se maatjies in briewe en kaartjies vrae.
Dié hartverskeurende vrae is gister (Woensdag 28 Mei) as deel van die slagofferimpakver- klarings aan die Wes-Kaapse hooggeregshof in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, voorgelees. Die saak het Dinsdag (27 Mei) vir vonnisoplegging hervat. Joshlin se drie ontvoer-
ders – Kelly Smith (haar ma), Boeta Appolis (haar ma se kêrel) en sy vriend Steveno van Rhyn – wat vroeër vandeesmaand skuldig bevind is op aanklag van ontvoering en mensehandel – het haar vir R20 000 verkoop.
Hulle word vandag (Donderdag 29 Mei) gevonnis.
Kelly se biologiese ma, Amanda Daniels, se handgeskrewe nota is ook voorgelees. “Kelly, jy het ons
lewens kom hel op aarde maak. Jy het ons kom breek en
uitmekaar kom skeur.”
Sy skryf ook hoe sy elke aand oor haar kleinkind huil, hoe sy besete van vrees raak as een van haar kleinkinders net twee
minute laat is ná skool.
“Jy wil nie verantwoordelikheid vat vir jou dade nie, nou wil jy my in die oë kyk en kom victim speel.”
Kelly se seun word gespot oor sy ma wat tik gebruik en sy sussie verkoop het.
Adv. Zelda Swanepoel en adv. Aradhana Heeramun het verskeie getuies ter strafverswaring geroep.
Amanda Daniels-Smith, ‘n hofvoorbereidingsbeampte, het slagofferimpakverklarings aan die hof voorgelees. Volgens haar het die partye weens Joshlin se ontvoering erge sielkundige en emosionele trauma gely.
Natasha Andrews, wat telkens vir Kelly gevra het of sy Joshlin kan aanneem, skryf in haar ver- klaring oor die leemte wat Joshlin gelaat het en haar vrese en verlange na Joshlin, wat naweke en vakansies by hulle deurgebring het. Die videosamestelling met foto’s van hul gesin saam met Joshlin en ‘n video waar Joshlin uitbundig lag, het almal in die hofsaal in trane gehad. Kelly het hardop gesit en snik.
joshlin se klasmaats sukkel
Edna Maart, Joshlin se voormalige onderwyseres, sê in haar verslag die skoolgemeenskap is skielik in ‘n situasie gedompel wat hulle nog nooit ervaar het nie. Sy vertel hoe sy elke dag Joshlin se klasmaatjies se trane moes afvee en vrae probeer antwoord. Hulle het elke oggend met Joshlin se gunstelingliedjie, “God will work it out”, begin.
Sy meen die gebeure gaan ‘n lewenslange impak op die leerders hê en is iets waarvan sy nooit sal kan vergeet nie. “Joshlin is steeds op die skool se stelsel, en daar sal sy bly, want ons sal aanhou hoop dat sy gevind word, ongeag die onbeantwoorde vrae.”
Cecile Olivier vertel in haar impakverklaring hoe sy daagliks vir weke lank na Joshlin help soek het. Sy het slapelose nagte gehad en is steeds emosioneel gebroke. “Ek is siek – fisiek en emosioneel.”
Dr. Marcel van der Watt, ‘n oud-kinderbeskermingspeurder en kenner oor mensehandel, het Dinsdag via Teams uit Washington in Amerika getuig en uit sy verslag oor die saak voorgelees. Hy het analise voorgehou van hoe die seksuele uitbuiting van kinders, wat in mensehandelaars se netwerk vasgevang word, verloop. Hy meen daar is nie ‘n kans dat Joshlin ná haar verkoop nié leed aangedoen is en nié verskriklike trauma beleef het nie.
Errol Pietersen, die proefbeampte, het vir die hof gelees uit sy voorvonnisverslag wat hy ná onderhoude met Smith, Appolis en Van Rhyn by die Pollsmoor-
gevangenis opgestel het. Hy
beveel aan die beskuldigdes moet die maksimum vonnis opgelê word omdat hy geen hoop het dat hulle sal kan rehabiliteer nie.
Luidens sy verslag erken al drie dat hulle dwelms gebruik het ten tyde van Joshlin se verdwyning. Hulle toon ‘n algehele gebrek aan berou oor hul wandade en ontken steeds hul betrokkenheid.
Hoewel Appolis, die pa van twee dogters van vyf en elf jaar oud, deur Pietersen as stil en teruggetrokke beskryf word en genoem het dat hy bang is vir die uitkoms van die saak, is dit vir Pietersen ontstellend dat Appolis met sy onskuld volhou en
Pietersen beveel daarom tronkstraf aan.
Van Rhyn, die pa van ‘n vyf-jarige dogtertjie, het slegs gr. 6 voltooi en daarna by ‘n verkeerde
groep mense ingeval en in dwelmafhanklikheid verval. Hy vererg hom maklik en sy familie sê hy rand vinnig iemand aan as hy kwaad is. Vorige veroordelings sluit in moord, roof, aanranding, huisbraak, diefstal, saakbeskadi-
ging en die besit van ‘n gevaarlike wapen. “Hy is ‘n bedreiging vir die samelewing,” het Pietersen aan die hof verklaar.
Van Rhyn blameer glo die vals getuienis van die polisie, die leuens van die getuies en die regter se “bevooroordeeldheid” vir die situasie waarin hy homself bevind en “gee glad nie om wat met Joshlin Smith gebeur nie.”
‘die getuies lieg,’ sê ma kelly
Kelly was volgens Pietersen se verslag ‘n skrander kind op skool, wat matriek voltooi het, maar wat vroeg reeds dagga en tik begin gebruik het.
Sy het ook haar kinders “lomp” dissiplineer deur hulle uit woede op die kop en aan die lyf te slaan en op hulle te skree. Kelly het aan Pietersen gesê haar regsverteenwoordiger, adv. Renesh Sivnarain, is onbevoeg, die getuies het gelieg en die hof is bevooroordeeld. Pietersen het gesê Kelly lyk onbetrokke en het haar net oor haarself bekommer. Sy het ook vir hom probeer jok.
Hy sê sy is manipulerend en was die meesterbrein agter die verkoop van Joshlin. Pietersen het die hof gevra om in ag te neem dat Kelly die ander gemanipuleer en mislei het, Joshlin se kwesbaarheid en haar rol as moeder misbruik het, en dat sy die betaling ontvang het.
Regter Nathan Erasmus, wat deur die loop van die verhoor bekendgeraak het as “The People’s Judge”, het teen die tyd wat Weslander moes drukkers toe gaan, nog die laaste getuienis ter strafversagting aangehoor.







