Boeta (Jacquen) Appolis (32), Steveno van Rhyn (28) en Kelly (Raquel) Smith (34) tydens ’n vroeëre verskyning.Foto: Alida Buckle


Alles is gereed vir die verhoor van drie beskuldigdes in die Joshlin Smith-saak om volgende week in die Veeldoelige Sentrum (Multipurpose Centre) in White City, Saldanha, te begin.

Die eerste dag van die verhoor van Kelly (Raquel) Smith (34), Boeta (Jacquen) Appolis (32) en Steveno van Rhyn (28) is ook vroeër en begin nou op Maandag 3 Maart.

Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, het gesê die voorverhoorkonferensies is verby en die staat en die verdediging berei nou voor om met die verhoor weg te spring.

Die verhoor is tot 28 Maart op die hofrol geplaas.

Volgens Ntabazalila is alle logistieke reëlings uitgesorteer en die Veeldoelige Sentrum is tot ’n hof verklaar. “Die keuse van lokaal is om te verseker dat die gemeenskap van Saldanha en omliggende gebiede maklike toegang tot die hof het.”

Smith, Appolis en Van Rhyn staan tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel met die doel om uit te buit. Die staat voer aan dat Kelly haar dogter, Joshlin, ’n jaar gelede by die Saldanha-polisiekantoor as vermis gaan aangee het. Joshlin was toe ses jaar oud en in graad een by Diazville Primêre Skool.

Luidens hofstukke het Kelly na bewering reeds op Sondag 18 Februarie die kind vir voornemende “kopers” gaan wys, waarna die transaksie glo beklink is.

’n Vierde verdagte, Renze (Laurentia) Lombaard (32), ’n buurvrou in die Middelpos- informele nedersetting langs Diazville, teen wie die aanklagte einde verlede jaar teruggetrek is, gaan na verwagting saam met ander staatsgetuies vir die staat getuig.

Die beskuldigdes sal al drie na die Malmesbury-gevangenis oorgeplaas word sodat hulle nader is vir die verloop van die verhoor.

Regter Nathan Erasmus gaan die saak aanhoor.. Gaan lees gerus gratis Weslander se uiteensetting van hoe hofsake in ons land verloop by https://www.netwerk24.com/netwerk24/za/weslander/nuus/hofsake-vind-plaas-ingevolge-vaste-proses-20250205-2

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article