‘n Man van Piketberg het sy moses in Velddrif teëgekom toe hy ‘n inwoner wat op die rivier visgevang het, se geparkeerde Isuzu-bakkie aan wal wou steel.
Velddrif se mense ken mekaar egter en wéét wie watter voertuig ry.
Stefanus Lourens (34) het na bewering Donderdag 26 Februarie ‘n Velddriwwer se bakkie wat by die sloep langs die Riviera Hotel geparkeer was, met die ontstekingsdraad aan die gang gekry. Hy het nie te ver gevorder nie, voordat ‘n vriend van die eienaar onraad vermoed het.
Die vriend het hom agtervolg tot waar hy stilgehou en by ‘n kroeg ingegaan het.
Die vriend het Lourens glo later in dié kroeg as die vermeende bakkiedief aan die polisie uitgewys.
Lourens het Vrydag 27 Februarie in die Hopefield-landdroshof verskyn op aanklag van voertuigdiefstal.





