Boeta Appolis vroeër die week in die getuiebank. Foto: Alida Buckle

Toe die beskuldigde Steveno van Rhyn sy medebeskuldigde Boeta Appolis onderstebo sien hang, het hy begin soebat en gesê dat hy net die waarheid vertel het oor die Maandag (19 Februarie 2024) waarop Joshlin Smith uit Middelpos verdwyn het.

Van Rhyn het op Dinsdag 15 April begin om in die binneverhoor in die Joshlin Smith-verhoor te getuig oor hoe polisiebeamptes hom na bewering gemartel het.

Hy staan saam met Kelly Smith en Appolis tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel. Regter Nathan Erasmus hoor die saak aan in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha.

Appolis het verlede week getuig oor sy beweerde marteling en vertel van hoe hy onderstebo gehang, geslaan en in ‘n blou polisievlag opgerol en met knuppels geslaan is. Hy het erken dat hy op verskeie geleenthede stories vir die polisie opgemaak het, glo ook omdat hy deur polisiebeamptes voorgesê is. Hy was onseker oor presies watter dele van sy bekentenis waar en wat vals is.

Staatsadv. Aradhana Heeramun het hom verskeie kere gevra waarom hy gejok het, waarna hy volgehou het dat hy dit gedoen het omdat hy bang was en ‘n storie moes opmaak.

Erasmus het op een tydstip vir hom gevra of die rede hoekom sy getuienis van Vrydag 11 April verskil van wat hy dié week getuig nie dalk is omdat Smith weer vandeesweek in die hof is nie? Hy het dit ontken. Smith was verlede week kort-kort afwesig weens mediese redes.

Die binneverhoor word gehou om te bepaal of bekentenisse wat op Dinsdag 5 Maart 2024 by Appolis en Van Rhyn afgeneem is, wel as bewysstukke vir die staat gebruik kan word.

Van Rhyn het vandeesweek, Dinsdag en Woensdag, vertel hoe twee manlike en twee vroulike polisiebeamptes hom op Maandag 4 Maart 2024 na Jacobsbaai “ontvoer” het. Daar is hy geboei en gedwing om op sy maag te lê voordat hy rondgeklap en sy privaatdele geknyp is. Hy het getuig dat sy privaatdele nie dieselfde daar uitsien ná die beweerde marteling nie.

Hy het emosioneel geraak terwyl hy getuig hoe die loop van ‘n vuurwapen glo in sy mond gedruk is. Dit was die eerste keer in sy lewe, het hy getuig, dat dit met hom gebeur. “Dit het nog nooit met my gebeur nie. Dit is die eerste keer. Jy kan voel dis nie plastiek nie, dis yster teen jou tande.”

Sy marteling en beweerde doodsdreigemente is gestop nadat ‘n man met ‘n bakkie vir die polisiebeamptes kom sê het hulle moet van die private grond af.

Die polisiebeamptes het hierna vir Van Rhyn na die seegrenseenheid geneem waar Van Rhyn beweer hy verder gemartel is. Ook deur glo onderstebo te hang en geslaan te word.

Van Rhyn se regsverteenwoordiger, adv. Nobahle Mkabayi, was teen die tyd dat Weslander drukkers toe is, steeds besig om Van Rhyn te ondervra. Die binneverhoor sal na verwagting van-

deesweek tot ‘n einde kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article