Die beskuldigde in die saak van die seksuele aanranding van ‘n 13-jarige in Piketberg het verlede Woensdag (29 Oktober) in die Piketberg-landdroshof verskyn.
Borgtog is geweier nadat ‘n petisie met die ondersteuning van rolspelers om borgtog teen te staan, uitgereik is. Volgens die ouer van die slagoffer is die nuus van weiering van borgtog ‘n stap in die regte rigting.
Die ouer glo dat hierdie stap geregtigheid vir dié kind sal bring en dat vertroue in die hof bestaan om uiteindelik die regte besluit te neem.
“Ek weet daar is nog ‘n baie lang pad wat voorlê. Op die oomblik is die kind in die ouma en oupa se sorg en ek is ook 24 uur by haar. Dit lyk asof my kind als wat gebeur, goed hanteer, maar ‘n mens weet ook hierdie gevoelens bly binne.”
Die beskuldigde sal op Woensdag 3 Desember weer in die streekhof verskyn.




