Geskeide paartjies sal moet seker maak die egskei­ding is op die Staat se stelsel. Foto: Toqan

‘n Vrou van Porterville waarsku dat mense wat glo hulle is wettig geskei, moontlik steeds as getroud op Binnelandse Sake (BS) se stelsel geregistreer kan wees, selfs al beskik hulle oor oorspronklike egskeidingsdokumente.

Volgens Elsa Cronje is sy en haar voormalige man in Oktober 2024 wettig geskei en het sy die oorspronklike egskeidingsdokument ontvang om dit te bewys.

Die probleem het egter ontstaan toe haar eksman onlangs dokumente vir sy pensioenfonds moes voltooi. Hy is glo deur die pensioenfonds ingelig dat hy steeds as getroud geregistreer is.

Hy het daarna die Binnelandse Sake-kantoor in Citrusdal met sy egskeidingsdokument besoek, waar hy volgens Cronje meegedeel is dat die dokument nie op hul stelsel verskyn nie en moontlik vervals kon wees. “Met die nuus het hy my gekontak en ek is op 30 April terug na die hof in Piketberg waar ons in 2024 geskei is,” het Cronje vertel.

Volgens haar was die staatsaanklaer baie behulpsaam en het onmiddellik nog ‘n oorspronklike egskeidingsertifikaat uitgereik. “Die staatsaanklaer het gesê dit is nie ‘n vreemde versoek nie. Volgens haar stuur die hof die dokumente aan Binnelandse Sake, maar dit word soms nie op hul stelsel aangebring nie,” het Cronje gesê.

Sy beweer daar word verskeie soortgelyke navrae per week hanteer en dat die probleem gewoonlik eers ontdek word wanneer iemand ‘n amptelike navraag indien.

Die tweede uitgereikte egskeidingsdokument is daarna weer aan Citrusdal se Binnelandse Sake gestuur. “Hy was op Maandag 4 Mei weer by Binnelandse Sake, maar is meegedeel dat die persoon wat met die dokumente werk, met verlof is,” het Cronje gesê.

Nadat sy weer die staatsaanklaer se kantoor om hulp genader het, is die dokumente glo vir ‘n tweede keer aan­gestuur.

Toe haar eksman die volgende dag weer die kantoor besoek, kon hy volgens haar steeds nie gehelp word nie omdat die amptenaar wat die dokumente ontvang het, afwesig was.

Intussen sê Cronje beskik hulle nou oor drie amptelike dokumente wat bevestig dat hulle wettig geskei is, maar die egskeiding verskyn steeds nie op Binnelandse Sake se stelsel nie.

Sy waarsku dat die situasie moontlik ernstige gevolge vir ander geskeide mense kan inhou, veral wanneer amptelike dokumentasie benodig word vir pensioenuitbetalings of ander admi­nistratiewe prosesse. “‘n Mens dink jy is geskei totdat jy iets amptelik moet doen, en dan ontdek jy die egskeiding is nie op die stelsel nie,” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article