Die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, wat van Maandag 3 Maart as ’n hooggeregshof ingerig sal wees.Foto: Weslander-argief


Die feit dat die Joshlin Smith-hooggeregshofsaak van die Kaapse Hooggeregshof in Keeromstraat, Kaapstad, na die Veeldoelige Sentrum (Multipurpose Centre) in Trichardtstraat, White City, in Saldanha verskuif is, ontlok wyd twee uiteenlopende reaksies.

Die eerste reaksie is kommer oor die veiligheid van die betrokkenes en die gladde verloop van die hofsitting.

Hieroor het Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, egter die versekering gegee dat daar na al die aspekte op verskeie strategiese beplanningsessies gekyk is en dat regter Nathan Erasmus tevrede is met die perseel en die beveiliging daarvan.

Die ander reaksie is een van blydskap omdat die gemeenskap wat sedert Maandag 19 Februarie onverpoosd na die klein meisie help soek het, self die verhoor sal kan bywoon.

Kelly (Raquel) Smith (34), Boeta (Jacquen) Appolis (32) en Steveno van Rhyn (28) staan tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel met die doel om uit te buit. Die verhoor is op die hofrol geplaas vir Maandag 3 Maart tot 28 Maart.

Volgens verskeie bronne wat Weslander geraadpleeg het, word hooggeregshofsake in sommige gevalle na ander dorpe “verskuif”, maar dit moet steeds in die betrokke hooggeregshof se omskrewe geografiese jurisdiksie val.

Die Smith-hooggeregshofsaak kon na Saldanha skuif omdat dié dorp binne dieselfde geografiese jurisdiksie – die Wes-Kaap – val. Daar is aansoek by die hof gedoen om die verhoor te skuif, hoofsaaklik om dit geriefliker vir getuies, familielede en die Weskus-gemeenskap te maak om die hofsitting te kan bywoon.

Die Wes-Kaap is een van 14 provinsiale afdelings van die hooggeregshof.

Die sleutelhofbeamptes wat die gemeenskap kan verwag om in die hofsitting van Maandag 3 Maart af te sien werk, is:

Die regter (ook genoem die voorsittende beampte) wat toesig hou oor die verrigtinge, beslis oor regskwessies en uiteindelik die beslissing in die saak maak.

Die registrateur wat verantwoordelik is vir administratiewe take soos die bestuur van hofdokumente, die skedulering van verhore en om te verseker dat behoorlike hofprosedures gevolg word.

Die staatsadvokaat en die regsverteenwoordigers van die beskuldigdes wat verantwoordelik is om hul kliënte se saak te stel, regspunte te beredeneer en getuies te ondersoek.

Die getuies is individue wat geroep word om in die hof te getuig oor inligting wat met die saak verband hou.

Deskundige getuies is professionele mense met gespesialiseerde kennis in ’n bepaalde veld wat geroep kan word om deskundige menings te verskaf.

Die hoftolk gaan kommunikasie vir partye voor wat nie die taal van die hof praat nie.

Om die hofsaak by te woon, gaan gemeenskapslede hulle vrywillig moet onderwerp aan algemene hofreëls sodat ’n dekorum gehandhaaf word. Dit beteken dat die stel reëls wat bepaal hoe mense in die hofsaal optree, gehoorsaam moet word uit respek vir die regstelsel, om regverdigheid te bevorder en om te verseker dat geregtigheid met waardigheid geskied.

Mense wat die hofsaak wil bywoon moet betyds wees en respekvol optree teenoor die hofpersoneel, instruksies van die hofamptenare volg en hoflik optree teenoor die veiligheidsbeamptes wat die Veeldoelige Sentrum en die hofsitting gaan bewaak.

Die hofverrigtinge moet te alle tye gerespekteer word en aanwesiges moet stilbly tydens sensitiewe oomblikke en hulle daarvan weerhou om hard te praat, te fluister of aanmerkings te maak. Die regsproses moet in geen omstandigheid ontwrig word nie.

Elektroniese toestelle soos selfone moet vóór die aanvang van die hofsitting óf af of op silent gesit word.

Die diepe emosies wat Joshlin se verdwyning plaaslik, nasionaal en internasionaal ontlok, moet liefs nie aan uiting gegee word terwyl die hof in sitting is nie. Handhaaf te alle tye goeie smaak. Bronne: judiciary.org.za; justice.gov.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article