Om finaliste in Netwerk24 se Smaakmaker-kompetisie te wees, is ‘n groot eer vir die Weskussers Alecia van Zyl en Dawid Botha.

Van Zyl is ‘n sprankelende gr.-1-onderwyseres by Laerskool Saldanha en is in die afdeling Onderwys-Smaakmaker benoem. Botha, bekend vir die aanbied van Lekker Weskus-video’s op sosialemediaplatforms, is ook ‘n groot sensasie, en is in die Kos-afdeling benoem.

Volgens Botha is hy baie opgewonde om weer hierdie jaar ‘n finalis te wees. “Ek was verlede jaar ook ‘n finalis, maar het ongelukkig nie gewen nie. Ek het ‘n baie goeie gevoel dat 2026 my jaar gaan wees. Ek is verlede week in kennis gestel dat ek weer ‘n finalis is en dit was ‘n fantastiese manier om die nuwe jaar te begin. Dis baie lekker om by die prysuitdelingsaand almal te ontmoet en met mede-smaakmakers
 te gesels en die aand te geniet.” Botha meen om benoem te word, is altyd ‘n eer en gee erkenning vir die jaar se harde werk. “Dit inspireer my om hier- die jaar groter en beter te wees as verlede jaar.”

Op die vraag sou jy wen, antwoord Botha met ‘n goeie sin vir humor: “Jy bedoel seker ‘wanneer’ ek wen! Dit gee my werklik die selfvertroue om Lekker Weskus vanjaar na nuwe hoogtes te bring. “Ek glo my video’s inspireer mense om nuwe resepte uit te toets en dalk bestanddele te gebruik waaraan hulle nie voorheen sou gedink het nie. Ek wys kykers hoe maklik dit is om lekker kos te maak. Ek is lief vir die Weskus en wil die res van Suid-Afrika wys hoekom dit so lekker hier in die Weskus is.”

Dawid Botha van Lekker Weskus.

Vir Van Zyl voel hierdie geleentheid nog onwerklik. “Baie van dit wat ons as onderwysers doen, gebeur in die stilte – sonder dat mense altyd sien hoe baie van jouself daarin gaan. Om dus as ‘n onderwys-smaakmaker-finalis gekies te word, is ‘n groot eer. Hierdie geleentheid beteken ek is op die regte pad. Dit motiveer my om net aan te hou deel en aan te hou met dit waarin ek glo. As dit wat ek doen, ander kan bereik en inspireer, dan weet ek ek doen iets reg en is dit vir my meer werd as enigiets anders,” vertel Van Zyl.

Om te wen, sal vir haar ‘n persoonlike prestasie wees – juis omdat sy iemand is wat baie hard op haarself as onderwyser is en altyd voel asof sy meer kan doen. “Hierdie erkenning sou vir my ‘n oom- blik wees om na terug te kyk en te besef dat dit wat ek gee, genoeg is. Dit sou my herinner dat groei nie net in groot oom- blikke lê nie, maar ook in die volgehoue, stil werk wat elke dag in ‘n klaskamer gedoen word.” Van Zyl wil ander onderwysers en ouers inspireer deur hulle eenvoudige maniere te wys om leer aan te bied.

“Ek probeer op sosiale media praktiese idees deel wat regtig in die klaskamer of by die huis werk. As iemand iets kan sien en dink ‘Dit kan ek ook doen’, dan het ek my doel bereik.”

Alecia van Zyl, gr. 1-onderwyseres by Saldanha Primêr.

• Om vir hierdie Weskussers te stem, besoek netwerk24.com/leefstyl/smaakmakers
. Stemme sluit Vrydag 6 Februarie.

• Weslander is deel van die Novus Media– groep en het geen affiliasie met Netwerk24 nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article