Met soveel vrae rakende sy dood is die familie van Imraan Padayachee (24) nog dieper in rou gedompel. Dié jong man van Diazville is tragies dood nadat hy Vrydag 20 Junie omstreeks 19:00 geskiet is.

Volgens Mia September, sy mei-sie, het Padayachee soos gewoonlik gestap en haar halfpad op pad terug van die werk af gekry. Dié Vrydag het hy besluit om sy ma by sy ouma se huis te gaan besoek, maar sy was nie op daardie oomblik daar nie; sy was reeds terug by haar huis.

Dit is egter met hul vertrek dat gewapende mans op hulle afgekom en Padayachee geskiet het. Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die voorval in Moonstonestraat, Diazville, gebeur.

“Hy is in die bors en sy geskiet en het op die toneel gesterf,” het sy gesê.

Vir Mia is dit steeds onwerklik en alles wat gebeur het, het nog nie ingesink nie.

“Binne-in my voel dit asof iets weg is. My verstand wil dit nog nie verstaan en verwerk nie. Hy het niemand kwaad aangedoen nie en het nie eens interaksie met hulle gehad nie,” het sy gebroke vertel.

Chrisna Fransman, sy ma, meen as die ambulans vroeër op die toneel was, sou haar seun vandag gelewe het. “Imraan was ‘n mense-mens. Hy was altyd respekvol, liefdevol en het ‘n groot liefde vir sy familie gehad. Hy was ‘n spontane kind en altyd bereid om te help.”

Wyle Imraan Padayachee saam met sy ma, Chrisna Fransman.
Wyle Imraan Padayachee saam met sy ma, Chrisna Fransman.

Om haar kind so weerloos en hulpeloos te sien lê, is steeds die ergste ding wat sy moet verwerk.

“Wat het hy gedink in daardie oomblik? Wat het alles deur sy gedagtes gegaan? Ek is net bly hy was nie alleen nie en dat daar iemand ná aan hom was, tot op sy laaste.”

Hierdie is net een van vier

skietvoorvalle wat die afgelope naweek in Diazville afgespeel het. ‘n 33-jarige man is omstreeks 00:15 Vrydag in Trireemstraat doodgeskiet, ‘n 40-jarige man is Maandagoggend in Vraagomstraat in die bors geskiet en die 22-jarige Geraldo Josephs is in hegtenis geneem nadat hy Vrydagaand omstreeks 19:15 na bewering

twee agtienjarige mans in hul bene geskiet het. Albei het die aanval oorleef en Josephs het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Volgens een inwoner is Saldanha glad nie meer dieselfde nie. “Dit is verskriklik om nou in hierdie dorp te bly. As jy weer hoor, dan is daar ‘n skietery. My vraag is: Hoe lewe ‘n mens in hierdie omstandighede? Dinge ruk so handuit en die polisie doen nie juis veel daaraan nie.”

Dié inwoner dink ook aan die veilig-

heid van kinders in die gebied en is as ‘n ouer bekommerd daaroor.

Volgens Padayachee se familie sal hy altyd onthou word en sy teenwoordigheid sal te alle tye gemis word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 February 2026
    Weslander E-Edition – 12 February 2026

Gift this article