Die uitspraak is gelewer – die drie mense wat by die verdwyning van die destyds sesjarige Joshlin Smith (nou al sewe jaar oud) betrek is, gaan
daarvoor aanspreeklik gehou word.
Dit was Vrydag 2 Mei die beslissing van regter Nathan Erasmus toe hy
Kelly Smith (Joshlin se ma), haar kêrel (Boeta Apollis) en ‘n vriend (Steveno van Rhyn) op al die aanklagte teen hulle – waaronder ontvoering en mensehandel – skuldig bevind het.
Soos vandeesweek berig word, het Erasmus in sy uitspraak bevind dat ten spyte daarvan dat daar steeds geen teken van die groenoogkind is nie, die staat bo alle twyfel skuld bewys het.
‘n Vroeë aanduiding is dat hulle moontlik lewenslange tronkstraf in die gesig staar.
Enkele ure nadat die uitspraak
gelewer is, is Kelly se houthuis, waar sy voor haar inhegtenisneming saam met Boeta en haar drie kinders – Joshlin en haar sibbe – gewoon het, aan die brand gesteek.
‘n Vrou het haarself kort daarna aan die polisie oorgegee en sal tereg moet staan op ‘n aanklag van brandstigting.
Dit laat tog die vraag ontstaan oor hoekom mense na geweld neig om uiting aan emosie te gee, hetsy woede of blydskap.
Dis nou as ‘n mens die aanname kan maak dat die optrede weens die viering van die uitspraak was.



