Shandré Pieters en sy lewensmaat, Chuneila Bester (agter), saam met hul kinders, Karishine (21), Tamzine (16) en Shandré Junior (11).

Nes ‘n eindfluitjie wat net te vinnig geblaas word, só is Shandré “Shakes” Pieters (41), ‘n geliefde rugbypersoonlikheid en afrigter van Vredenburg, se lewe Saterdagaand (24 Mei) kortgeknip.

Pieters is in ‘n huis in Tweedelaan, Louwville, doodgeskiet – onder omstandighede wat deel is van die Vredenburg-speurtak se ondersoek. Een verdagte is reeds in hegtenis geneem weens die voorval wat omstreeks 21:45 gebeur het.

Shandré Pieters

Die man het reeds vandeesweek in die Vredenburg-landdroshof verskyn – voorlopig op aanklag van moord – maar die klag kan dalk verander na gelang van die feite wat bekendraak.

Volgens Gaynor Bester, sy skoonsuster, was Pieters Saterdagaand in Fairbairnstraat by sy ouerhuis om die vrou met wie hy al twintig jaar sy lewe deel, Chuneila “Zel” Bester, se verjaardag te vier. Hy het gou omgeloop na sy suster se huis daar naby om sy swaer, Theo Wilson, te gaan sê dat hulle later na ‘n dans toe gaan.

Daarvandaan is hy na ‘n vriend se huis in Tweedelaan, waar ‘n ander vriend hom geroep het om gou ‘n “doppie” by hulle te kom drink. Die tragedie het hom by dié huis afgespeel. Gaynor vertel dat iemand Chuneila kom roep het. Sy is meegedeel sy moet gaan kyk – Shakes is in Tweedelaan geskiet.

Met haar aankoms by die huis het sy Shandré in die huis op die grond met ‘n skietwond deur die hart gekry. Hy was reeds dood. “Die mense in die huis kon nie vir Chuneila sê wie hom geskiet het nie,” het Gaynor gesê. Pieters was sy hele volwasse lewe by die Vredenburg-rugbyklub betrokke.

Hy was ‘n gerespekteerde figuur in die plaaslike rugbywêreld – eers as speler as haker en flank, en die afgelope drie jaar as afrigter van die C-span. Volgens Winslo Jordaan, die klubkaptein, het die C-span onder Pieters se leiding al die nuwe Grootuitdaagliga van die Weskus gewen.

Pieters was ook lid van die klubgroep wat die Superliga in 2011 gewen het en het ook vir die Krewe-krieketklub gespeel.

Pieters het as haker en flank rugby gespeel – ook vir die Hoërskool Weston, waar hy gematrikuleer het. Ná skool het hy by Weskus Aluminium (Bonvoy) se motorhuisdeur-afdeling begin werk, waar hy tot met sy afsterwe was.

Sy skielike heengaan los sy familie, vriende en lede van die Vredenburg-rugbyklub en wyer rugby-geledere in skok en rou.

Shandré Pieters ná ‘n segetog.

Pieters se “ope, eerlike hart” sal Jordaan altyd bybly, sê hy.

Ook hoe hy altyd oor sy klong, Shandré Junior, “wat in alles goed is”, gespog het. Pieters het “nie sommer kwaad geraak nie en sy dorp in sy hart gedra – veral op die rugbyveld”, het Jordaan gesê. Gaynor sal hom onthou as iemand wat lief vir mense was – “ ’n regte terggees wat hom aanhoudend ‘dik’ gehou het”.

“Jy het kwaad geraak vir hom, maar moes agterna maar net weer lag vir sy skerp sin vir humor,” onthou sy met deernis. “Shandré was ‘n opgewekte, lewenslustige mens. Never a dull moment as hy naby was.”

Hy was ‘n ware gesinsman, pa en staatmaker wat vir sy kinders geleef het. Dit is vir hulle verskriklik swaar om te aanvaar dat hul pa nie meer met hulle is nie.

“Shandré was enig in sy soort en sy dood het ons as familie baie swaar getref. Dit voel nog alles só onwerklik,” het Gaynor afgesluit. Benewens Chuneila word

Shandré oorleef deur sy ouers, Koos en Cathleen Pieters, sy suster Zenobia Pieters, en sy drie kinders, Karishine (21), Tamzine (16) en Shandrè Jr (11).

• Begrafnisreëlings was nog nie bekend teen die tyd dat Weslander drukkers toe is nie, hoewel ‘n gedenkdiens die afgelope Dinsdagaand (27 Mei) vir hom gehou is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article