‘n Argiteksvoorstelling van De Drift Winkelsentrum. Foto: Dorpstraat

Bouwerk aan die De Drift winkel sentrum in Velddrif is op dreef om sy deure vroeg in 2026 te open.

Dorpstraat, die ontwikkelaar agter die projek, het aan Weslander gesê die ligging van die sentrum is die gevolg van omvattende marknavorsing wat gewys het dat Velddrif die afgelope dekade vining gegroei het met nog uitbreidings op pad.

Dorpstraat sê hy pak geen projek aan sonder deeglike navorsing oor die gemeenskap se behoeftes, inkomste, koopgedrag en langtermynvolhoubaarheid nie.

Velddrif het die toets met vlieënde vaandels geslaag.

“Ons doel is om ‘n gaping in die mark te vul – nie om bestaande ondernemings te kannibaliseer nie.”

Buiten die dorp se sterk groei in inwoners en behuising, wys die data dat Velddrif ‘n groot aantal besoekers en inkopiegangers uit omliggende dorpe lok. Toe Checkers, as een van die ankerwinkels, sy eie onafhanklike navorsing gedoen en dieselfde bevin-

dings bevestig het, het Dorpstraat geweet die geleentheid is reg, en die beplanning vir De Drift het begin.

Die ontwikkelaars skat sowat 200 konstruksiewerkers sal tydens die boufase in diens geneem word.

Waar moontlik word plaaslike vaardighede eerste oorweeg, behalwe vir gespesialiseerde konstruksievelde, wat spesifieke kundigheid vereis.

Huurders:

Die winkelsentrum se huurders – van nasionale kettingwinkels tot kleiner winkels – steun ook op die plaaslike arbeidsmark vir winkelpersoneel. Dit beteken permanente werksge- leenthede vir inwoners van Velddrif en omliggende gemeenskappe.

Inwoners kan uitsien na ‘n sterk ankerlys gevestigde handelsgroepe soos Checkers, Checkers Liquor, Petshop Science, Dis-Chem, Mr Price, Crazy Store en verskeie ander kleinhandelaars.

Enkele ruimtes is nog vir belangstellende ondernemings beskikbaar.

Die argitektoniese visie vir De Drift is standvastig in die Weskus se identiteit gewortel. Die ontwerp kombineer mediterreense en kus-elemente, met natuurlike kleure en teksture wat aan sand, klei en hout herinner.

Die uitleg van De Drift bied ruim ingange en gemaklike oriëntering, duidelike wandelpaaie en sagte landskapontwerpe wat eg Velddrif bly.

De Drift se beplande openingsdatum is Donderdag 28 Mei 2026.

Verdere opwinding is die residensiële ontwikkeling wat aan die sentrum grens. Hoewel dit nog in die beplanningsfase is, glo Dorpstraat dit gaan ‘n waardevolle aanwins wees wat die dorp se groei ondersteun en die gebied se aantrekkingskrag versterk.

Volgens die argitekte gaan die stoepe van die winkelsentrum só lyk. Foto: Dorpstraat
Bouwerk aan die De Drift-winkelstentrum in Velddrif is goed op dreef. Foto: Letitia Van Zyl-Schultz

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article