Dis die eerste keer in baie jare dat ek nie Kersfees saam met my familie en vriende sal deurbring nie. Dis ‘n bittersoet gedag-
te, want aan die een kant weet ek ek moet wees waar ek my tans bevind, maar aan die ander kant tref die gedagte aan ‘n Kersdag weg van my familie en vriende al moeiliker. Hoe ouer ‘n mens word, hoe belangriker word die band wat jy smee met hulle wat die naaste aan jou is – jou familie. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Daar is mos maar altyd daai een of twee familielede wat jy so een keer in ‘n dekade wil sien, maar hoe lui die gesegde nou weer… bloed is dikker as water. Of, jy kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie. Dis nou maar eenmaal so waar soos wat die son hierdie somer weer op Afrika bodem gaan bak!
Gepraat van die somer – Desembermaand is mos sinoniem met seevakansies. Dié van ons wat jaar in en jaar uit die bederf van die see ken en ervaar, sal weet. Dis daai tyd van die jaar wat almal op Langebaan toesak om ‘n bietjie son en seelug in te asem. Vir familie en vriende wat ‘n ent weg van die seebederf af woon, is dit die hoogtepunt van die jaar.
Vir een of ander rede bly Langebaan maar die punt van samekoms. Die chalets by Mykonos word al ‘n jaar vooruit bespreek. Of die gastehuis-, woonwa- of tentstaanplek word al lank voor die tyd geboek. Alles word haarfyn vooraf beplan vir daai Weskus-wegbreekbeurt. Dis Desember, dis feestyd, dis Kerstyd saam met familie en vriende. Ai, dis asof ek in my geestesoog kan sien hoe daai eerste paar dae voor Oukersdag afspeel.
Die feestelike atmosfeer wat heers; die swaargelaaide koelbokse en ander houers met al die vleis, drankies, soet- en sout-happies, gerookte snoek, bestanddele vir die afval- of seekospotte – noem maar op. Ook die eerste familie wat hier knap voor Kersfees opdaag om in die feestelikheid te kom deel. Nog meer kos- en drankvoorraad word tot die bestaande gevoeg. En dan begin die makietie in alle erns – natuurlik eers met ‘n eg Suid-Afrikaanse braai. Dis daarna dat die potte en tafels gaan begin kreun en dreun van allerlei lekkertes. Oral in Langebaan hang die klanke van vrolike kuiers en slegs hierdie tyd van die jaar verskoon almal die meer as normale volume in klank, want dis feestyd aan die Weskus.
Gaan loer maar daar by die lagoon en jy sal sien wie almal hul opwagting hier aan die Weskus kom maak het. Die Gautengers word jaar ná jaar ‘n alombekende gesig hier aan die Weskus. Ons vriende van ons buurland Namibië is kort op hul hakke. Moenie vergeet van ons Kapenaars nie – tog te lief vir die Weskus! En natuurlik sal jy al ons klein dorpies wat ‘n klipgooi van die see af is, hier kan gewaar. Die paar dae word haarfyn beplan. Die see en branders moet aangedurf word. Iewers sal daar tyd ingeruim word om ‘n draai in Velddrif te gaan maak. Die vars harders, gerookte snoek en bokkoms is ‘n moet. Paternoster is volgende op die spyskaart. Die mooi van hierdie pragtige Weskusdorpie sal maar altyd bekoor – soveel te sien en te doen. Ek wonder of ‘n mens nog ‘n paar krewe en ‘n vars snoekie uit die see daar op die strand kan koop?
St. Helenabaai, Tietiesbaai, Jacobsbaai en Saldanhabaai is almal die moeite werd om te gaan inloer, al is dit net vir daai lekker ontbyt of middagete, of in die son lê en bak vir ‘n uur of drie.
Dis mos festive. Geen haas. Gee jou lyf ‘n gawe tyd. En vir dié wat hou van ‘n lekker day trip al langs die kus af, is daar meer as genoeg om te sien en te doen. Daai familie uit die Vrystaat sal nog ‘n keer die lekkerte en waardering smaak van die mooi van onse Weskus – al met die spoorlyn langs tot in Elandsbaai.
Hou koers tot in Strandfontein. Moenie verby Ebenhaeser ry nie. Gaan loer in. Gaan maak ‘n draai in Lambertsbaai en geniet Weskus-vriendelikheid op sy beste. Gaan maak ‘n draai by die Muisbosskerm se opelug-restaurant. Hul gebraaide vis, mossels, kreef, snoek en oondgebakte suurdeegbrood sal jou laat vra vir nog.
Gaan stap ‘n ent op Lambertsbaai se strand en gee jou maag so ‘n bietjie skiet om daai vislekkertes na behore te verteer, voordat jy weer jou pad aandurf Langebaan toe. En as jou beesstertpot of kerrieafvalpot hier skuins ná Kersdag begin prut, hoop ek dat daai kuier saam met die familie en vriende van naby en ver ekstra lekker sal wees; hoop ek dat al die strydbyle wat dalk kan bestaan, vir daai tyd vergeet sal word of sommer finaal begrawe sal word. Ons leef in sulke moeilike tye. Niks is vir my so mooi as familie wat deur dik en dun bymekaar staan nie veral hier oor die feestyd. Dis mos omgeetyd. So, doen dit met oorgawe.
Ons weet nie of ons volgende jaar die voorreg sal hê om nog ‘n Kerstyd met mekaar te kan deel nie. Geseënde Kersfees!


