Dans-dans – reg tot aan die einde


Die Here het spesiaal vir hom die paartie gereël vir sy afsterwe, meen ‘n gestremde, bejaarde man se familie nadat hy onverwags die afgelope Saterdag (20 September) tydens ‘n musiekuitvoering by Huis Wittekruin in Vredenburg inmekaargesak en gesterf het.

Oom Jannie Dreyer, wat vir musiek gelewe het, het dié oggend al te vrolik danspassies gemaak tydens Amoré, ‘n sangeres, se uitvoering as deel van ‘n bederfoggend. Hy het die vorige week 73 jaar oud geword.

Jannie het ná die laaste liedjie waarop hy gedans het, op ‘n stoel gaan sit. Volgens omstanders het hy kort hierna skielik bleek geword en inmekaargesak. Hy is bykans onmiddellik oorlede – volgens sy familie aan ‘n reuse-hartaanval.

Hoewel sy skielike heengaan almal teenwoordig hewig ontstel en geskok het, is sy familie dit eens – Jannie is met groot vreugde in sy hart met die musiek om hom dans-dans hemel toe.

Johanna Dreyer, Jannie se skoonsuster, vertel hoe lief Jannie vir musiek was. “Hy het graag gedans en op sy manier eintlik goed ritme gehou. Musiek was sy grootste liefde. As hy musiek om hom gehad het, was hy in sy eie wêreld, tevrede en op sy gelukkigste.”

Sy suster, Marieta Esterhuizen, was die grootste bydraer tot sy uitgebreide versameling musiek-CD’s en -DVD’s. Hulle het die liefde vir musiek gedeel en wanneer hy by haar kom kuier het, het hulle musiek opgesit en gedans terwyl ‘n vleisie braai.

As ‘n liedjie speel, kon Jannie onmiddellik sê wat die liedjie se naam is, wie dit sing en op watter CD dit voorkom.

Hy het die laaste 29 jaar van sy lewe in Huis Wittekruin gewoon, waar hy ‘n geliefde inwoner was. Inwoners vertel dat hy met elke sanger wat by dié tehuis opgetree het, vooraan was. “Hy het dit vreeslik geniet. Hy sou selfs ‘n kuier saam met familie oorsien as ‘n kunstenaar opgetree het wat hy graag wou beleef,” vertel Johanna.

Volgens Marieta het Jannie op hul familieplaas, Erfdeel, in die Vredendal-omgewing grootgeword. Vanweë sy gestremdheid het hy eers tussen drie en vier jaar oud begin loop. Hy is tuis onderrig, maar weens spasmas kon hy nie regtig ‘n pen of potlood hanteer nie.

“Ek is gebroke. Hy was my hele lewe. Die Here was so genadig om hom sonder enige pyn weg te neem. Hy het maar ‘n bitter lewe gehad. Dit was nie maklik om gestremd gebore te word nie.”

Sy familie gaan veral sy blymoedigheid, sy liefde vir Jesus en sy allesomvattende liefde vir musiek mis. “Hy het altyd gelag en was altyd gereed vir ‘n grappie. Hy het voluit gelewe,” meen Johanna.

Die familie onthou hoe lief Jannie ook vir die see was en dat hy sommer dadelik sou inspring, al was die Weskus-water vriesend koud.

Jannie het gereeld vir Johanna in besonderhede vertel hoe hy ‘n kerkdiens ervaar het en hoe lekker hy saamgesing het. “Waar singery of dansery was, was hy, en nou is hy daar bo in die hemel by Jesus, wat hy so liefgehad het.”

Sy gaan Jannie die “sonskynkind” verskriklik mis. “Vir my gaan dit pynlik wees om verby Huis Wittekruin te ry en te weet ek kan nie meer daar stilhou nie, want Jannie se kamer is leeg.”

Marieta bedank die mense by Huis Wittekruin uit die diepte van haar hart vir al die liefde en omgee wat Jannie in die jare wat hy daar gewoon het, ervaar het. “Hulle was ontsettend goed vir hom.” Sy bedank spesiaal vir Erina Strydom en Milly van Dyk wat so mooi na Jannie omgesien het.

Sy kan nie glo hy het 73 jaar oud geword as sy daaraan dink hoe swak hy as kind was nie.

“Die Here het hom vir ons geleen.”

Jannie laat benewens Marieta nog ‘n suster en tweelingbroers agter. Sy dood volg vyf maande na nóg ‘n broer, Frans Dreyer, se afsterwe.

Jannie se roudiens is op Vrydag 26 September in Huis Wittekruin gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article