Terwyl die saak van nog ’n buurvrou van die ma van die vermiste graadeentjie, Joshlin Smith (6), vandeesweek in die Vredenburg-landdroshof gedraai het, is daar bekendgemaak dat die uitslag van die forensiese toetse op bebloede klere bekom is.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het egter Maandag 25 Maart aan die groep joernaliste buite die hof gesê dat hy nie by magte is om die uitslag bekend te maak nie.
Die hele land hou al geruime tyd asem op vir dié uitslag.
Gemeenskapslede het Saterdag 2 Maart op die bebloede kinderklere afgekom, 12 dae ná Joshlin as vermis aangemeld is.
Haar ma, Kelly Smith (33), wat saam met die buurvrou, Lorentia “Renze” Lombaard (31), en nog twee beskuldigdes, Jacquen Appollis en Stevano van Rhyn, tereg staan op aanklagte van mensehandel en ontvoering, het op daardie tydstip aan die gemeenskap gesê dat die klere nie Joshlin s’n is nie.
Die polisie wou nie verder oor die uitslag van die toetse uitwei nie.
Lombaard het haar tweede en vlugtige verskyning in die hof gemaak waar sy aangedui het dat sy nie om borgtog gaan aansoek doen nie. Sy verskyn weer op Woensdag 13 Mei saam met die ander drie beskuldigdes in die hof.
Intussen het brig. Mashadi Selepe die statistieke vir vermiste kinders onder 18 vir die afgelope ses maande – September 2023 tot 27 Februarie vanjaar – bekendgemaak.
Sowat 60% (207 sake) uit 348 kinders wat in Suid-Afrika as vermis aangemeld is, het vrywillig teruggekeer, maar 141 kinders word steeds vermis.
Selepe het benadruk dat daar onmiddellik, soos in Joshlin se geval, ’n amber alert (grys waarskuwing) uitgereik word wanneer die Wes-Kaapse kantoor vir vermiste persone dit versoek – gewoonlik so vinnig as moontlik nadat ’n kind as vermis aangegee is.
Die polisie het in 2020 hande gevat met Facebook om vermiste kinders deur amber alerts te help vind.
Dié Amber Alert-stelsel is die eerste van sy soort in Afrika en stel die polisie in staat om bystand van die publiek te vra wanneer daar vermoed word dat ’n kind ontvoer is en daar gevrees word dat die kind in gevaar verkeer.
’n Senior polisiebeampte bepaal of ’n amber alert uitgereik word, waarna dit via Facebook se globale sekuriteitsentrum na geteikende gebiede in Suid-Afrika herlei word.
“Die beskerming van kinders bly ’n prioriteit vir die polisie en veral jong kinders moet nooit sonder toesig gelaat word nie,” sê sy.
Selepe het mense ook aangeraai om onmiddellik ’n kind wat vermis word by die polisie aan te meld.
Volgens Selepe mag die polisieondersoek na die verdwyning van ’n kind net as afgehandel beskou word indien die kind gevind is.





