Ek weet nie of jy met my gaan saamstem nie, maar hier skuins ná vyftig wil dit vir my voor kom asof jy die lewe in tru-spieël-formaat aanskou en beleef.
En glo my, daar is heelwat lewenslesse wat ek uit hierdie fase van my lewe so baie waardeer.
Een daarvan is die lewenswysheid wat jy oor die jare (hopelik) opgedoen het om nou met nuwe ywer die nuwe seisoene in jou lewe aan te pak.
Kyk, waar ek my tans bevind wil ek my soms stilweg doodlag vir die simpel goed wat ek in my jonger dae aangevang het.
En tog het daardie goeters my waardevolle lesse geleer. In so ‘n mate dat ek nie weer daarheen sal wil terugkeer nie. Dalk gaan ek eendag ‘n memoir oor my lewe skryf. Dit behoort regtig ‘n heerlike leeservaring te wees … glo my!
Knap ná vyftig het my ook kom leer dat die lewe regtigwaar baie kort is en dit vir ons nodig is om voluit te leef.
Dink maar aan al die sterfgevalle wat daagliks op sosiale media aangekondig word. En elke keer as ek dit lees dan is dit asof daai besef opnuut by my inskop dat dit ek kon gewees het…want,
Skuins na vyftig kom leer jou dat jy hierdie lewe met al sy kronkels en draaie met groot respek moet hanteer. My super gesonde ekke wat destyds net gekla het van ‘n lastige verkoue, moet nou maar die vrede vat as ek elke oggend my paar pille moet sluk om die bloeddruk en bloedsuiker gelukkig te hou.
En as die liggaam vir jou daai sein of boodskap stuur dat jy moet brieke aandraai dan luister jy. Die bestuur van my lewenskwaliteit(op alle vlakke) het deesdae die wagwoord by my kom word. Meer as ooit tevore.
Skuins na vyftig het my kom leer dat jou lewe sover as moontlik vry moet hou van onnodige stres en bekommernis oor daai goed waaroor jy glad nie heheer het nie.
Daar was ‘n tyd in my lewe toe ek gewonder het of dinge ooit vir my sal uitwerk soos ek daaroor gedroom en gewens het, want die tyd staan vir niemand stil nie. Is dit nog enigsins moontlik om te mag droom of hunker na iets beters as jou ouderdom “teen jou” begin tel? As jou finansies druk en jy weet jy sal moet plan maak om heel aan die anderkant uit te kom.
Skuins na vyftig het my kom leer dat dit inderdaad moontlik is om nog steeds jou drome na te jaag. Dat dit inderdaad moontlik is om jouself te verbeter.
Jou studies te voltooi wat jy al so lankal uitgestel het want jy het ‘n gesin om na om te sien. Dat jy daardie kursus kan voltooi om die bevordering by jou werk te kry.
Dat jy dit uiteindelik mag waag om jou eie besigheid te begin waaroor jy al so lankal droom. En dat daai werksgeleentheid oorsee vir jou en jou gesin kan uitwerk.
Skuins na vyftig het my kom leer dat die lewe die moeite werd is om voluit te leef. Dat dit nie altyd maanskyn en rose gaan wees nie, maar beslis die moeite werd is om te waag.
Meer belangrik is hoe jy jou beste lewe hier en nou leef. So ‘n week of wat gelede bel ‘n goeie vriend en oud-kollega my. Dit was wonderlik om weer mekaar te hoor en te sien. Ons het ‘n gedeelde komvandaan wat ek vir altyd sal koester. Ek het hom met my eerste tree tot die beroepswêreld ontmoet.
Dit was met die draai van die millenium. Daar oppie Stoepe innie Paarl. Dit was vir my ‘n nederige begin gevul met soveel lewenslesse wat my vir ewig sal bybly. Daar het ek my hart en passie vir kinders en jongmense ontdek. Daar het ek my hart vir gemeenskapsontwikkeling ontdek.
En hier skuins na vyftig onthou ek. Wees nederig. Wees dankbaar en trots vir jou komvandaan … hoe nederig ookal, want dit het jou gevorm tot die mens wie jy vandag is.
En as ek vandag die vrug van my harde werk en drome pluk dan kies ek om nie te vergeet van hulle wat daar was vir my toe ek iemand in my lewe nodig gehad het nie. En dan kies ek om terug te ploeg, want die lewe hier skuins na vyftig behandel my dan so goed.
Skuins na vyftig het my veral kom leer om te waak oor dit wat in my hart en kop aangaan. Dat my dade harder as my woorde moet spreek. En in ‘n wêreld waar daar soms soveel pyn, lyding, hartseer en donker is, ek oor die mag beskik om lig en lewe te bring met dit wat ek doen en sê.
Nie omdat ek perfek of so oulik is nie, maar omdat ek hier skuins na vyftig meer as ooit tevore die Bron van my krag en mag ontdek.
En as ek weer die voorreg gegun mag word om daar oppie Stoepe ‘n draai te gaan maak, dan sal ek die slagspreuk van my eerste werksplek onthou – Kies die lewe!



