Nie net ‘n kruisie nie | More than just a vote

Bergrivier keur 2026-’27 begroting goed


Die Bergrivier-munisipaliteit (BM) se begroting vir die 2026-’27 finansiële jaar wat R837 328 528 miljoen beloop, is op Dinsdag 26 Mei tydens ‘n raadsvergadering in Piketberg goedgekeur.

Volgens Matthew Sheldon, woordvoerder van die BM, is die begroting daarop gemik om doeltreffende dienslewering te verseker en die lewensgehalte van alle inwoners binne die Bergrivier- munisipale gebied te verbeter. “Die begroting stem ook ooreen met die behoeftes van die gemeenskappe wat gedien word, soos uiteengesit in die goedgekeurde geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) 2022-’26.”

Die goedgekeurde begroting bestaan uit die volgende:

◘ Kapitaalbegroting van R118 707 347 miljoen, en

◘ Bedryfsbegroting van R718 621 181 miljoen.

Die grootste kapitaalbeleggings sal fokus op:

◘ Water-infrastruktuur: R30 909 983 miljoen; en

◘ Paaie-infrastruktuur: R23 950 000 miljoen – insluitend projekte soos Kerklaan (R7 miljoen) en die Pella Park B-Veld projek (R9,3 miljoen).

Die munisipaliteit se totale inkomste en bedryfsuitgawes sal na verwagting soos volg toeneem in vergelyking met die aangepaste 2017-’18-begroting:

Tariefverhogings vanaf 1 Julie 2026:

◘ Water (basies) sal met 15% verhoog;

◘ Waterverbruik (gemiddeld) wissel tussen 3.7% en 6%;

◘ Elektrisiteitstariewe sal met 8% verhoog (goedgekeur deur NERSA);

◘ Vullisverwyderingstariewe sal met 4.75% verhoog;

◘ Sanitasietariewe sal met 4.75% verhoog; en

◘ Die tariewe vir eiendomsbelasting sal met 4.75% verhoog.

Sheldon verduidelik dat sy begrotingsbeplanning hoofsaaklik gaan oor die keuses wat die munisipaliteit moet maak tussen mededingende prioriteite en fiskale realiteite. “Die uitdaging is om meer te doen met die beskikbare hulpbronne. Bergrivier- munisipaliteit bly gefokus op die doeltreffende lewering van basiese munisipale dienste (soos water- en paaie-infrastruktuur) aan ons gemeenskappe.”

Tydens die lewering van die begrotings- rede het die burgemeester, Ray van Rooy, sy dank uitgespreek teenoor die publiek vir hul vennootskap en ondersteuning, wat daartoe bygedra het dat BM jaarliks deur Ratings Afrika onder die top-5% van munisipaliteite landwyd aangewys word.

“Ons verantwoordelikheid as ‘n sfeer van regering is om te verseker dat die lewensgehalte van alle mense wat in die Bergrivier- munisipale gebied woon en werk, verbeter word,” sê Van Rooy.

◘ Besoek die munisipale webwerf by bergmun.org.za en openbare biblioteke en munisipale kantore in die munisipale gebied vir die volledige GOP, begrotingsdokument en voorgestelde tariewe.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 June 2026
    Weslander E-Edition – 18 June 2026

Gift this article