Die SBM het drie nuwe proporsionele raadslede verwelkom wat in Mei by die raad aangesluit het: van links is die uitvoerende burgemeester, Marius Koen, die speaker Olwene Daniels, Antonie Jansen (Vryheidsfront Plus), Mzwamadoda Bixa (EFF), Fredley Jacobs (DA) en Wilhelm Africa, raadslid. Foto: Ethne Lawrence | SBM

‘Begroting dui op morele kompas’

Die SBM het drie nuwe proporsionele raadslede verwelkom wat in Mei by die raad aangesluit het: van links is die uitvoerende burgemeester, Marius Koen, die speaker Olwene Daniels, Antonie Jansen (Vryheidsfront Plus), Mzwamadoda Bixa (EFF), Fredley Jacobs (DA) en Wilhelm Africa, raadslid. Foto: Ethne Lawrence | SBM

“‘n Munisipale begroting is meer as net syfers op ‘n balansstaat. Dit is ‘n morele verklaring van ‘n munisipaliteit se prioriteite.”

Só het raadslid William Morrison van die Patriotiese Alliansie (PA) die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se nuwe begroting beskryf op ‘n spesiale raadsvergadering op Donderdag 28 Mei.

Die driejaarbegroting van R7,7 miljard is met 18 teenoor 5 stemme goedgekeur. Dit bestaan uit R6,4 miljard vir bedryfsuitgawes en R1,3 miljard vir kapitaalprojekte, waarvan 64% aan infrastruktuur bestee sal word.

Die DA, Good, Vryheidsfront Plus en die Truth and Solidarity Movement het die begroting gesteun, terwyl die PA, ANC en EFF daarteen gestem het. Raadslid Mzandile Simon Biko van uMkhonto weSizwe (MK) het buite stemming gebly.

Volgens die uitvoerende burgemeester, Marius Koen, was nuwe eiendomswaardasies een van die grootste gesprekspunte onder inwoners. “Eiendomme in die munisipale gebied is in 2025 herwaardeer, met waardes wat gemiddeld met 50% gestyg het sedert die vorige waardasie in 2021. Die totale eiendomswaarde het van R51 miljard tot R77 miljard gestyg. Dit sal na verwagting eiendomsbelastinginkomste van sowat R399 miljoen in 2026-’27 oplewer, teenoor R385 miljoen voorheen. Koen het gesê die raad het besluit om die groei in eiendomsbelastinginkomste te beperk ten spyte van die sterk styging in waardes.”

Die PA het die begroting verwerp omdat dit volgens Morrison “nie die armstes ‘n lewenslyn bied nie”. Die party het ook kommer uitgespreek oor ‘n bedryfsoorskot van sowat R30 miljoen oor drie jaar, asook die hoë koste van werknemersalarisse en elektrisiteitsaankope. Morrison het ook vrae gevra oor elektrisiteitsverliese van 11% en die tariefstruktuur. Die munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, het die PA uitgenooi om bewyse vir hul bewerings voor te lê.

Die kapitaalbegroting word hoofsaaklik gefinansier deur kapitaalvervangingsreserwes (70%), eksterne lenings (18%) en regeringsubsidies (12%). Volgens die finansiële hoof, Stefan Vorster, word lenings hoofsaaklik vir inkomste-genererende dienste soos water gebruik en word bekostigbaarheid noukeurig bestuur.

Behuising het ook sterk onder die vergrootglas gekom. Die ANC het kritiek uitgespreek oor die stadige vordering met behuisingsprojekte en die formalisering van informele nedersettings. Volgens die begroting is R193 miljoen oor drie jaar vir behuising bewillig, waarvan R62 miljoen vir dienste en R131 miljoen vir huise bestem is. Die munisipaliteit bly egter grootliks afhanklik van provinsiale subsidies.

Koen het gesê SBM bedien meer as 161 000 inwoners en meer as 53 000 huishodings, waarvan meer as 8 000 as behoeftig geregistreer is. Huishoudings met ‘n inkomste van minder as R6 000 per maand ontvang ‘n volle subsidie, terwyl dié met ‘n inkomste tussen R6 000 en R6 800 ‘n 70%-subsidie ontvang. Ander verligting sluit gratis basiese elektrisiteit, water en ‘n verhoogde vrystelling van eiendomsbelasting in. Tariefverhogings vir algemene dienste soos water, sanitasie, vullisverwydering en eiendomsbelasting beloop 3,7%, terwyl elektrisiteit met sowat 9,2% styg.

Opposisiepartye het ook ander kommer uitgespreek. Die ANC het die impak van verhogings op arm huishoudings bevraagteken, terwyl die EFF meer gedetailleerde begrotingsinligting per dorp versoek het.

Vir meer, besoek weslander.co.za

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 4 June 2026
    Weslander E-Edition – 4 June 2026

Gift this article