’n Merkwaardige man in die gemeenskap – dit is hoe baie wyle Arthur Abrahams beskryf het.
Abrahams is Dinsdag 30 Mei in die ouderdom van 89 jaar in sy slaap oorlede.
Sy naastes beskryf hom as ’n familiemens wat baie privaat was en met sy betrokkenheid in die onderwys, sport en kultuur diep spore nagelaat het.
Abrahams is op 10 Desember 1932 in Mowbray gebore en het aan die Wesley College in Soutrivier studeer. Hy het sy eerste onderwysbetrekking in Loeriesfontein in 1953 aanvaar. Hy en sy gesin het aan die einde van 1975 ná 23 jaar uit Loeriesfontein vertrek en hulle in Vredenburg gevestig.
Abrahams het in 1980 as skoolhoof by Noordhoek Primêr begin tot sy aftrede in 1992.
Hy het ’n groot liefde vir skilder, gholf en tuinmaak gehad.
Ter ere van sy betrokkenheid in die gemeenskap en toewyding in Vredenburg is ’n straat na hom vernoem, naamlik Arthur Abrahams-rylaan.
Volgens sy familie gaan hulle sy analitiese gesprekke oor die politiek en sport mis, want hy het altyd oor die nuutste gebeure debatteer.
Abrahams was een wat gestaan het vir dit wat reg was en het altyd sy gemeenskap opgehef.
Sy oudste seun, Desmond Abrahams, sê sy pa was ’n man duisend en hy het dikwels sy ma, Suretta, afgegee om voor die kospotte te staan.
“Sy heerlike beesstert-geregte met ’n broodpoeding vir nagereg was sowaar voortreflik. Ek sal ons pa-en-seun-oomblikke altyd koester. Hy het sy liefde vir die Weskus uitgebeeld deur sy fyn oog op die vissershuisies en bootjies te hou en dit dan op lap neer te lê.”
Abrahams laat benewens sy vrou, Suretta, en hul oudste seun, Desmond, nog twee kinders agter: Shereen Pick en Denise Abrahams, asook drie kleinkinders, Sheena Pick, Ronaldo Abrahams en Eleanor Abrahams, en twee agterkleinkinders, Shehaan Pick en Shenika Pick.
Abrahams se begrafnisdiens het Vrydag 3 Junie in Vredenburg plaasgevind.


