Die Weskus is vandeesweek weer eens geruk deur die ontydige dood van ’n jong seun – dít net enkele dae ná die afsluiting van Kinderbeskermingsweek wat van 29 Mei tot 5 Junie gevier is.
Dinsdagaand het honderde roubeklaers met kerse by die ouerhuis van die sewejarige El-Jay byeengekom om ’n laaste eer aan hom te betoon, maar ook om ’n bietjie vertroosting en bemoediging aan sy ouers in hierdie hartseer tyd te bring. Hoewel daar in hierdie stadium wyd gespekuleer word oor die oorsaak van klein El-Jay se dood in die lig van talle ander wrede voorvalle waar kinders die afgelope jaar aan die hand van misdadigers gesterf het, het die polisie intussen gesê geen misdaad word in hierdie stadium vermoed nie. Hulle wou egter ook nie bespiegel oor wat tot die kind se dood kon lei voordat die lykskouing nie afgehandel is nie. Die polisie het wel weer eens benadruk dat daar geen wagperiode is om kinders as vermis aan te gee nie. Die ou gesegde: “It takes a village”, is vandag meer relevant as ooit tevore en terwyl ouers bes moontlik hul kinders versorg en seker maak hulle is veilig, is dit ook belangrik dat ons as gemeenskap ’n wakende oog oor ons kinders moet hou. Dalk het dit tyd geword dat ons nie net verbyry wanneer kinders op ’n verlate plek speel of alleen op straat loop nie. As jy nie self gemaklik voel om te stop en te vra of die kinders weet waar hulle hulself bevind, of hul ouers weet waar hulle is en of hulle weet om weer veilig by die huis te kom as hulle weggedwaal het nie, skakel jou plaaslike buurtwagte dat hulle ondersoek kan instel.




