Aanklagte van mensehandel en ontvoering teen Phumza Sigaqa is Woensdag 13 Maart in die Vredenburg-landdroshof tydelik laat vaar. Foto: Verskaf/SAPD


Die aanklagte teen ’n beweerde sangoma wat by die verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith betrek is, is tydelik laat vaar.

Phumza Sigaqa van Middelpos by Saldanha het gisteroggend (Woensdag 13 Maart) saam met haar drie medebeskuldigdes voor landdros Yolisa Sipoyo in die Vredenburg-landdroshof op aanklagte van ontvoering en mensehandel verskyn.

Die aanklagte teen Sigaqa is egter tydelik teruggetrek.

Joshlin is nou reeds 23 dae weg nadat sy Maandag 19 Februarie spoorloos uit die sorg van haar ma se kêrel, Boeta (Jacquen Rowhan) Appollis (31), verdwyn het.

Joshlin se ma, Kelly Smith (33), het saam met Sigaqa, Appollis en sy vriend Steveno van Rhyn (27) in die hof verskyn.

Hul regsverteenwoordigers van die regshulpraad, Marco Smeda vir Appollis en Van Rhyn en Meronique Sade Odendaal vir Kelly, het aangedui dat al drie beskuldigdes hul borgtogaansoek vir nou gaan laat vaar.

Adv. Aradhana Heeramun, wat die staat se saak hanteer, het gevra dat die saak vir verdere ondersoek uitgestel word. Die staat wag ook nog vir ooggetuieverslae en ander inligting.

Steveno van Rhyn (27, middel) en Boeta (Jacquen Ro

Steveno van Rhyn (27, middel) en Boeta (Jacquen Rowhan) Appollis (31) net agter hom op pad om die hof in Vredenburg te verlaat. Foto: Alida Buckle

Landdros Sipoyo, wat streng reëls voor die aanvang van die saak aan die groot groep media duidelik gestel het, het die saak tot Maandag 13 Mei uitgestel.

Eric Natabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV), het gesê indien die beskuldigdes van plan verander en tog om borgtog aansoek doen, sal die staat dit teenstaan.

Hy het gesê die getuienis teen Sigaqa is onvoldoende, maar die ondersoek gaan voort.

Ntabazalila het ook gesê die polisie is besig om nuwe inligting op te volg in verband met waar Joshlin haar moontlik bevind.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes Joshlin ontvoer en verkoop het. Daar is glo in bekentenisse beweer Joshlin is vir R20 000 aan ’n sangoma vir moeti verkoop.

’n Groot skare het gister buite die hofgebou saamgedrom, wat later met lemmetjiesdraad aan die oorkant van die pad afgesper is.

Mense het ter ere van Joshlin in wit klere by die hof opgedaag.

’n Groep vroue van Middelpos het betoog en gesing dat dit ’n fout was om Sigaqa in hegtenis te neem. Hulle het gesê sy is onskuldig en is nié ’n sangoma nie.

’n Gespanne atmosfeer het buite die hofterrein geh

’n Gespanne atmosfeer het buite die hofterrein geheers met die polisie wat van so ver as die Paarl kom help het.Foto: Alida Buckle
Gemeenskaplede versoek die veilige terugkeer van J

Gemeenskaplede versoek die veilige terugkeer van Joshlin.Foto: Noluvu Ludidi
Ondersteuners van Phumza Sigaqa glo in haar onskul

Ondersteuners van Phumza Sigaqa glo in haar onskuld en wou haar vrygelaat hê. Foto: Noluvu Ludidi

Lede van die media is een vir een tot die hofterrein toegelaat mits hulle hul perskaarte as geakkrediteerde joernaliste en verslaggewers kon toon.

Dit het gelei tot rustiger hofverrigtinge as verlede week toe daar nie genoeg plek vir Joshlin én die beskuldigdes se families was nie.

Buite was dit ’n ander storie met die polisie wat die ontstelde skare met traanrook en skokgranate in bedwang moes hou.

Kelly is alleen terug na die Pollsmoor-gevangenis geneem, waar sy en Sigaqa tot nou saam aangehou is. Sy sal nes die twee manlike beskuldigdes in aanhouding bly.

Nog inhegtenisnemings kan moontlik volg en nog aanklagte kan by dié op die klagstaat gevoeg word.

Die uitslag van die forensiese toetse op bebloede klere wat gekry is naby die Middelpos- informele nedersetting waar Joshlin verdwyn het, is nog nie bekendgemaak nie.

Die beskuldigdes word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Joshlin te ontvoer en haar doelbewus te verkoop of te ruil.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article