Slegs ure nadat regter Nathan Erasmus die afgelope Vrydag (2 Mei) Kelly Smith, Boeta Appollis en Steveno van Rhyn skuldig bevind het op aanklagte van ontvoering en mensehandel, wat verband hou met die verdwyning van Kelly se sesjarige dogter, Joshlin, is die houthuisie
waarin Kelly saam met Boeta en haar drie kinders in die Middelpos- informele nedersetting in Saldanha gewoon het, afgebrand.
Die provinsiale polisie het die nuus Vrydagaand in ‘n persverklaring bevestig en gesê ‘n vrou is kort ná die voorval ingeneem vir ondervraging.
Die plaaslike brandweer is omstreeks 19:45 na die toneel ontbied, maar die houthuisie het tot op die grond
afgebrand.
‘n Bron in die gebied het aan Weslander gesê niemand was ten tyde van die voorval in die huisie nie.
Die koerant het in Maart vanjaar berig dat Smith en Appollis geskok was om tydens ‘n ondersoek ter plaatse van die gebied en wat deur Erasmus gelas is, te sien dat ander mense hul intrek in die huisie geneem het.
In ‘n video wat reeds wyd op sosiale media versprei is, word gesien hoe mense luidkeels voor die brandende huisie juig en dans.
Die Saldanha-polisie ondersoek ‘n klagte van brandstigting.
Volgens kapt. F.C van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het die 27-jarige verdagte haar aan die polisie oorgegee en Maandag (5 Mei) in die plaaslike hof verskyn. Die saak is tot Maandag (12 Mei) uitgestel.
Die groenoog-meisiekind word sedert Februarie verlede jaar vermis.
• Lees ook die berig op bl. 2.






