Kapt. Wesley Lombard, hoofondersoekbeampte in die Joshlin Smith-saak.

Kapt. Wesley Lombard, hoofondersoekbeampte in die Joshlin Smith-saak. Foto’s: Alida Buckle

Die kruisondervraging van kapt. Wesley Lombard, die hoofondersoekbeampte in die ondersoek na die verdwyning van Joshlin Smith (7) van Middelpos, Saldanha, het Dinsdag 1 April voortgegaan as deel van die hofsaak-in-‘n-hofsaak oor die beweerde aanranding en marteling van twee van die beskuldigdes in die saak.

Die saak kom voor in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha.

Boeta Appolis en Steveno van Rhyn beweer dat hulle op Maandag 4 Februarie tydens polisieondervraging gemartel en aangerand is. Appolis en Van Rhyn staan saam met Kelly Smith, Joshlin se ma, tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel nadat Joshlin as sesjarige in Februarie verlede jaar verdwyn het.

Boeta Appolis, Beskuldigde 1, luister na die hofverrigtinge. Foto: Alida Buckle

Lombard het ontken dat die polisiespeurders saam met onder andere lede van die Stad Kaapstad se wetstoepassingsafdeling en ander polisiebeamptes, wat ten tyde van die beskuldigdes se ondervraging die betrokke aand by die Seegrenseenheid in Saldanha teenwoordig was, vir Appolis en Van Rhyn gemartel en aangerand het.

Appolis en Van Rhyn beweer dat hulle onder meer in die helikopter-posisie gemartel is. In dié posisie word ‘n verdagte gedwing om met sy knieë opgetrek te sit. Sy geboeide hande word dan oor sy knieë gesit waarna ‘n pyp of staaf deur die knieë oor die arms gedruk word.

Van Rhyn se regsverteenwoordiger, adv. Nobahle Mkabayi, het verduidelik dat Van Rhyn beweer die punte van die staaf is hierna weerskante op stoele gesit wat veroorsaak het dat hy koponderstebo aan die staaf gehang het.

Appolis se regsverteenwoordiger, Fanie Harmse, het verlede week gesê sy kliënt sê dat ‘n swart sak oor sy kop gesit en om sy nek styfgetrek is. Hy het glo sy kop geskud as hy nie meer kon asem kry nie, waarop die sak dan vir rukkies afgehaal is.

Van Rhyn beweer dieselfde is met hom gedoen, maar volgens Mkabayi sê haar kliënt die polisie het ekstra plastieksakke oor sy kop gesit omdat hy die eerste sak stukkend gebyt het.

Mkabayi het vir Lombard gevra hoe hy as hoofondersoekbeampte nie bewus was van die martelings nie. Hy het deurentyd volgehou dat hy nie enige martelings gesien of tekens gesien het dat iets ongunstigs met die beskuldigdes gebeur het nie. “Hulle het net senuweeagtig gelyk – nie soos mense wat in ‘n geveg was nie.”

‘n Dokter, wat Van Rhyn op Dinsdagoggend 5 Februarie ondersoek het, se verslag is deel van die bewysstukke. Mkabayi het dit aan die hof gestel dat die dokter se beskrywing van Van Rhyn se beserings ooreenstem met die metode van marteling soos wat Van Rhyn uiteensit.

Lombard het daarop gewys dat die verslag nie melding maak van merke op Van Rhyn se gewrigte nie. Van Rhyn beweer ook die polisiebeamptes het hom aangesê om niks vir die dokter te sê of te wys nie. Terwyl die aspekte van die beweerde marteling bespreek is, het Van Rhyn vir die eerste keer nie gedurende verrigtinge geglimlag nie, maar emosioneel voorgekom – iets wat Mkabayi uitgewys het.

Regter Nathan Erasmus het gesê die skets van Van Rhyn se beserings dui geen beserings agter die knieë aan soos te wagte ná sulke martelings nie, maar dit dui wel merke bo-op sy voorarm aan, soos wat ‘n staaf sou gelos het.

Mkabayi het dit aan Lombard gestel dat enige bewyse wat by Van Rhyn gekry is, ongrondwetlik verkry is en dat sy bekentenis dus nie as sodanig beskou kan word nie omdat hy onder ongeoorloofde druk was.

Kol. Leon Hanana, Lombard se bevelvoerder by die provinsiale eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad, het ook getuig hy weet nie van enige martelings nie.

Erasmus het gelas dat Van Rhyn en Appolis nader aan Saldanha aangehou word, terwyl Smith in aanhouding by die Langebaan-polisie bly.

Adv. Nobahle Mkabayi in die voorgrond met adv. Fanie Harmse langs haar. Foto’s: Alida Buckle

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article