Die ondersoekspan van die opspraakwekkende Joshlin Smith-saak is onlangs by die Wes-Kaapse polisie-toekenningsgeleentheid vereer. Dié plegtigheid het voorverlede Saterdag (17 Januarie) by die Century City Convention Centre in Kaapstad plaasgevind, waar kapt. Wesley Lombard, hoofondersoekbeampte, en sy span as die beste speurspan aangewys is.
Lombard sê die toekenning beteken baie. “Die span het uiters hard gewerk om Joshlin op te spoor en ‘n gehalte-ondersoek te verseker wat in die verhoor aangebied kon word. Wat bygedra het tot hierdie toekenning, is ons vertroue in die Here, toewyding, dissipline en die ondersteuning van die polisie en die gemeenskap.”
Joshlin, toe ses jaar oud, is Maandag 19 Februarie 2024 as vermis uit Middelpos, Saldanha, aangemeld. Dit is ‘n saak wat Weskussers en mense reg oor die wêreld diep raak, veral omdat sy spoorloos verdwyn het.
Die beskuldigdes, Kelly Smith (Joshlin se ma), Steveno van Rhyn en Boeta Appolis, is op 29 Mei 2025 gevonnis. Hulle het lewenslange tronkstraf vir mensehandel en tien jaar vir ontvoering gekry.
Lombard benadruk dat die ondersoek steeds aan die gang is en dat die span sy uiterste bes doen om Joshlin op te spoor. “Saam kan ons hoogtes bereik en saamwerk met ‘n suiwer hart, suiwer bedoelings en fokus op ons taak. Leef te alle tye volgens die beginsel ‘jou kind is my kind’,” voeg hy by.
Volgens Lombard het die uitdagings van die saak as ‘n leerstap gedien om toekomstige ondersoeke te verbeter. “Dit het ontwikkelingsmodules vir die span geword.”
Hy bedank ook almal wat aan die soektog deelgeneem het vir hul onder- steuning. “As ‘n kollektief kan ons goeie veranderinge verseker sodat almal daarby kan baat,” sê hy.





