Om met kos te toor, het Zelda Els vroeg geleer, en nou werk sy om ander met haar eetgoed te betower.
Els (46) sal aan baie foodies bekend wees vir haar deelname aan reeks drie se gewilde Kokkedoor. Volgens Els was dit ’n hoogtepunt van haar kosmaak-loopbaan. “Om uit honderde hoopvolle kokke van oor die land heen as een van die reeks se ‘Onthoukokke’ gekies te word, was absoluut wonderlik! Die ondervinding en blootstelling wat ek gekry het, is iets wat geld nie kan koop nie,” meen sy.
Sedertdien is sy aan die stuur van SOET+S(t)OUT. Hier maak sy alles van vars pasta tot gourmet-braaisouse. “Ek het ’n gaping in die mark gesien vir spesialiteitstuisgemaakte produkte wat ’n mens nie elke dag op die winkelrakke sien nie, soos sjokolade-salami’s.”
Benewens die kosmaak bied Els ook kospraatjies en -demonstrasies aan. Sy sê dit is altyd groot pret.
Dit was ’n slim sakebesluit, maar Els verduidelik die kreatiwiteit van resepte skep en boekhou, gaan vir haar saam.
“My passie vir kosmaak kom al van kindsbeen af. Die kombuis hou vir my ’n absolute betowering in! Ek wil net mense voer en sien hoe hulle ’n nuwe gereg geniet.
“Ek het nog altyd ’n kop vir besigheid gehad, so die ‘kreatiewe’ kant van kosmaak en die sakekant van die onderneming gaan gelukkig hand aan hand.”
Ten spyte van die goeie balans wat Els in haar onderneming het, kom die sakewêreld nie sonder sy uitdagings nie.
“ ’n Uitdaging van vrouwees met ’n onderneming is om jouself oor en oor te probeer bewys, en dit net omdat jy ’n vrou is. Maar, dit het my net meer vasbeslote gemaak om vorentoe te gaan en vandag pluk ek die vrugte as gevolg van harde werk en deursettingsvermoë!” vertel Els.
’n Deel van haar deursettingsvermoë is om positief te bly. Vir Els beteken dit om haar lewensleuse voluit te leef – “Lewe voluit vandag, tomorrow is not guaranteed!”
“Ek motiveer myself deur net positief te bly. Hoeveel mense kan werklik sê dat hulle elke dag opstaan en hul passie uitlewe? Ek kan!”
Haar raad aan enigeen wat hul eie onderneming wil begin, is om klein te begin, maar groot te droom. Prakties stel sy voor entrepreneurs moet seker wees om in hulself en hul onderneming te belê. “Ploeg jou geld terug in jou onderneming. Staan uit bo die res met die produk wat jy lewer en hoe jy jou kliënte hanteer, maar bowenal, geniet wat jy doen!”
Om ’n onderneming aan die Weskus te hê, gaan ook nie net oor die rand en sent van die saak nie, meen Els, en sy het onlangs by haar plaaslike sopkombuis betrokke geraak. Die sopkombuis is deur die Hopefield Community Action Group begin.
“In hierdie stadium deel die sopkombuis elke tweede Woensdag warm etes uit aan weerlose mense in Hopefield. Hulle is heeltemal afhanklik van skenkings, dus – hoe meer mense kan betrokke raak, hoe meer etes kan ons aan mense in nood gee. Hierdie is ’n projek wat baie naby aan my hart lê.” Nóg ’n projek wat haar na aan die hart lê, is die moontlikheid om haar eie kookboek te skryf. Els verduidelik min dinge maak haar hart so bly soos nuwe resepte. “O, en kookboeke is my swakpunt. Ek het hopeloos te veel en lees hulle soos storieboeke.”
Els sê sy het ook groot planne vir SOET+S(t)OUT, maar wil nog nie veel uitbrei nie.
“Ek het gróót planne vir die volgende hoofstuk. In hierdie stadium kan ek nog nie te veel sê nie, maar, watch this space!”





