Deur besoedelende en vinnige ekonomiese regstellings soos kragskepe en hidrobreking te bevorder, stel die Suid-Afrikaanse regering geleenthede in gevaar vir ander sektore wat beter sal wees vir die land se langtermyn- sosiale, omgewings- en ekonomiese gesondheid, skryf Gillian Hamilton van The Green Connection en pastoor Chris Maart van Saldanha.

The Green Connection het onlangs in die hoofnuusmedia beland toe dié organisasie die regering hof toe geneem het oor die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se besluit om elektrisiteitsopwekkingslisensies aan Karpowership Suid-Afrika toe te staan.

Indien dit goedgekeur word, sal hierdie lisensies die maatskappy toelaat om kragskepe, wat erge besoedeling in die hawens by Saldanha, Ngqura (Coega) en Richardsbaai te bedryf, kan veroorsaak.

Saam met plaaslike kleinskaalse vissers het ons ook aandag getrek toe ons gemeenskappe aangespoor het om die gaswysigingswetsontwerp teen te staan tydens die departement van minerale hulpbronne en energie (DMH) se openbare verhore in Februarie 2023.

Indien dit goedgekeur word, sal hierdie wetsontwerp die regering se gasaspirasies versnel en dit moeiliker maak vir die publiek om toekomstige projekte teen te staan soos ons Shell se plan in 2021 teengestaan het toe dié maatskappy seismiese opnames aan die Wildekus wou doen met die oog daarop om die kusgebied vir gas te ontgin.

The Green Connection, in vennootskap met kleinskaalse vissers en Saldanhabaai-inwoners, het hom daartoe verbind om hidrobreking, kragskepe en seismiese opnames teen te staan, want ten spyte van die belofte om werk in die korttermyn te skep, kom hierdie beleggings teen ’n prys vir die natuurlike omgewing terwyl die langtermynbehoeftes van mense geïgnoreer word.

Die kragskepe word voorgestel as ’n oplossing vir Suid-Afrika se energiekrisis, maar die realiteit is dat die elektrisiteit wat deur hierdie skepe vervaardig word, duurder per eenheid sal wees teenoor die koste van alternatiewe bronne. Dit gaan Suid-Afrikaners in die langtermyn dus meer kos. As jy ook die omgewingskade aan ons gasheerhawens en omliggende kusgebiede in ag neem, is dit duidelik dat Karpowership-energie nie die silwer koeël is wat die regering blykbaar dink dit is nie.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, het in Julie vanjaar duidelik aangedui dat die regering voortgaan om gas as ’n energiebron na te streef toe sy appèlle van vyf omgewingsgroepe, wat probeer het om die Karpowership Suid-Afrika se aansoek vir omgewings­goedkeurings vir sy beplande gasinstallasie by die hawe van Richardsbaai teen te staan, afgekeur het.

The Green Connection se navorsing dui daarop die fokus – veral in Saldanhabaai – op nywerheidsopsies vir plaaslike ekonomiese groei, wat die aanleg van die Karpowership insluit, in die pad kan staan van alternatiewe vir werkskepping soos plaaslike volhoubare boerdery of toerisme. StratEcon, ’n onafhanklike ekonomiese navorsingsagentskap, het in ’n 2019-verslag gebaseer op verskeie faktore bevind dat toerisme die gebied se mees belowende sektor is, met potensiaal om werk vir plaaslike inwoners te skep.

Die Weskus Nasionale Park lok elke jaar reeds 250 000 plaaslike en internasionale toeriste. Waarom gaan die regering dan voort om ’n nywerheidsontwikkelingsone in die munisipaliteit te ondersteun?

Boonop is Saldanha se vissersgemeenskap oor baie geslagte heen al afhanklik van die oes van die see. Onlangs is mosselplase asook ander skulpvisspesies bygevoeg.

Karpowership kan daartoe lei dat meer werksgeleenthede in die visbedryf verlore gaan as wat deur Karpowership geskep kan word.

Deur korttermyn-industrialisasie na te streef, sal hierdie projekte bestaande sektore soos toerisme en visvang, wat van gesonde ekostelsels afhanklik is, bedreig. Niemand sal ’n Weskus wil besoek wat deur nywerheids-infrastruktuur verwoes is nie, en plaaslike vissers sal nie ’n bestaan kan maak as die seelewe deur besoedeling vernietig is nie. Deur hierdie projekte teen te staan, is ons ten gunste van tasbare ekonomiese vooruitgang en nie leë vernietigende beloftes nie. Ons dink hierdie projekte is voorbeelde van slegte ekonomiese beplanning.

Maar wat is die alternatief? The Green Connection stel die Koeksister-ekonomiese model voor. Hierdie model weef drie snare saam om ’n sinvolle alternatief vir die huidige hulbrononttrekkingsmodel van ontwikkeling te skep.

Die eerste string is gebaseer op die idee dat gemeenskappe hul reg moet laat geld om gesamentlik besluite te neem wat ’n invloed het op hoe hul plaaslike hulpbronne – hul grond, hul oseane en hul visvoorraad – gebruik word.

Die tweede snaar fokus op plaaslike produksie, werksgeleenthede en ekonomiese aktiwiteite wat die grense van die plaaslike omgewing respekteer, sodat sy toekomstige potensiaal ongeskonde bly. Die derde snaar is een van oorgang. Ten spyte van wat die regering oor die kragskepe sê, is geen “vinnige ekonomiese oplossings” beskikbaar nie. Die probleme waarmee ons vandag te kampe het – van energie-onsekerheid en honger tot hoë vlakke van misdaad en skuld – sal nie opgelos word deur dieper in die industrialisasiemasjien te delf nie. Ons kan ons probleme slegs oplos deur oor te skakel na modelle van ontwikkeling, wat sal verseker dat ons natuurlike hulpbronne nog in die toekoms beskikbaar is, terwyl dit ook ons hedendaagse behoeftes bevredig.

Ons het ’n unieke geleentheid ontvang – die kans om ons ekonomiese model te heroorweeg en ontwikkeling te prioritiseer wat beter is vir almal. Maar as ons ten alle koste voortgaan om uitbuitende industrialisasie na te streef, sal ons nie net ’n geleentheid verkwis om vandag iets nuuts te probeer nie, maar ook verhoed dat ons weer hierdie kans in die toekoms kry.

  • Die sienings in die meningstuk is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig die sienings van hierdie publikasie nie. – Red

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article