’n Man wat vroeër deur die polisie ondervra is oor Joshlin Smith, die sesjarige graadeentjie se verdwyning op Maandag 19 Februarie, het vanoggend (Vrydag 1 Maart) klagte van ontvoering by die Saldanha-polisiestasie ingedien.
’n Groep mans van ’n sekere politieke groepering het vandeesweek die 34-jarige man van die Middelpos- informele nedersetting by Saldanha op ’n regstreekse uitsending op Facebook op ’n bakkie geboender en met hom rondgery waarna hulle hom glo na die plaaslike polisiestasie geneem het.
Van die mans was met vuurwapens gewapend.
Reagen Allen, die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, het vanmiddag (Vrydag) tydens ’n perskonferensie bevestig dat die saak van ontvoering geopen is.
Hy het sy diepe bekommernis uitgespreek oor die wyse waarop dié tragiese Joshlin Smith-saak verpolitiseer is en verwys na individue en groepe wat hoogs immoreel en onsensitief teenoor die vriende, familie, geliefdes en die breër gemeenskap optree.
“Dit is roekeloos, oneties en immoreel wanneer politieke partye op ’n opportunistiese wyse probeer om die pyn van ’n gesin, ’n gemeenskap, te misbruik vir hul eie politieke gewin.”
Allen het ook sy afgryse uitgespreek oor politici en sosialemediabeïnvloeders se vergrype na bekendheid wat gelei het tot verhoogde gemoedere in Middelpos. Hy verwag dat die polisie streng moet optree teen sulke individue. “Wanneer mense en groepering poog om self ’n misdaad te ondersoek, belemmer hulle net die ondersoek en vuur vyandigheid in ’n gemeenskap aan.”
Die ontvoerde slagoffer se onderneming is gevandaliseer en van sy toerusting soos sy kragopwekker is geroof. Hy is tans in ’n plek van veilige bewaring.
Allen én André Truter, die Saldanhabaai se uitvoerende burgemeester, het ook die neem van reg in eie hande gekritiseer.
Allen het verwys na die moord van ’n “verdagte” in ’n saak in 2022 in Parkwood waar die gemeenskap hulle deur vals inligting laat lei het om hom “skuldig” te bevind en ter dood te veroordeel.
Lt.Kol. Malcolm Poje, woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het in ’n afsonderlike persverklaring gesê dat die polisie burgerlikes se hulp waardeer, maar dat dit behoorlik gekoördineer moet word en binne die raamwerk van die wet moet geskied. Hy het benadruk dat daar vereiste beginsels van ondersoeke is wat toegepas moet word soos wat die saak ontvou sodat dit na die hof geneem kan word wanneer dit gefinaliseer is.
Joshlin se ma, Kelly Smith (33), ’n selferkende tikslaaf, het haar die Maandagaand by die Saldanha-polisiestasie as vermis aangemeld. Joshlin het ten tyde van haar verdwyning ’n ligblou hempie en ’n denim-kortbroek aangehad. Sy is die laaste keer gesien omstreeks 14:00 waar sy saam met ’n onbekende seun verby die Diazville-kliniek stap.
Kelly en haar kêrel, Jacquin “Boeta” Appollis, het Woensdag leuenverklikkertoetse geslaag. Oor dié uitslag het Truter, self ’n oud-polisieman, verduidelik dat ’n leuenverklikkertoets net ’n rigtingwyser vir ’n ondersoekbeampte is. “Dit word nie as klinkklare bewyse in die hof beskou nie”.
Bykomende hulpbronne om die soektog na Joshlin voort te sit, is Donderdag beskikbaar gestel ná Truter se pleidooi om hulp nadat die polisie besluit het om die soektog na Joshlin af te skaal.
Verskeie wetstoepassingsagentskappe soos die Stad Kaapstad se senior polisiëringseenheid en ander provinsiale polisie-eenhede uit die Kaap werk sedert gister onverpoosd saam met die Vredenburgse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) aan die saak.
Die Stad Kaapstad het verder ook ’n span senior ondersoekers en lede van hul honde-eenheid met hul snuffelhonde, lede van die see-eenheid en watervaartuie sowel as ervare soek-en-reddingsvrywilligers gestuur.
Indien iemand inligting het om die ondersoek in ’n nuwe rigting te stuur, bel speursers. Meyer Milstein, die ondersoekbeampte in die saak, by 079 879 8588.





