Terwyl die land treur en vrae stel oor die spoorlose verdwyning van Joshlin Smith (6), ’n graadeentjie by Diazville Primêr, Saldanha, lyk dit op die oog af of haar ma steeds haar Moedersdag op Sondag 12 Mei geniet het.
Ná afloop van die hofverrigtinge in die Vredenburg-landdroshof het Kelly Smith (33) Maandag in die beskuldigdebank soos ’n wafferse filmster op die rooitapyt haar reguit geblaasde hare oor haar skouer laat wip elke keer as sy haar kop gedraai het om joernaliste wat vinnig ’n vraag of twee ingeglip het, te beantwoord.
Smith staan saam met haar kêrel, Boeta (Jacquen Rowhan) Appolis (31), sy vriend, Steveno van Rhyn (27), en ’n buurvrou, Renze (Lorentia) Lombard (31), tereg op aanklagte van mensehandel met die doel om uit te buit en ontvoering. Dit was die eerste keer dat al vier beskuldigdes saam in die hof verskyn het, met Lombard se saak wat in Maart by die ander gevoeg is.
Smith het Joshlin op Maandag 19 Februarie by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aangemeld. Die beskuldigdes se weergawes van wanneer Joshlin weg is asook wat daardie Maandag in die huishouding aangegaan het, het voortdurend verander.
Speurders van die Vredenburg-kinderbeskermingseenheid (FCS) se ondersoek wat daardie nag begin het, is van bakboord na stuurboord gestuur. Nadat dit ’n moontlikheid geword het dat Joshlin dalk verkoop is, is die saak deur die Wes-Kaapse eenheid vir georganiseerde misdaad oorgeneem.
Op 7 Maart het Smith, Appolis, Van Rhyn en ’n ander buurvrou teen wie die saak intussen laat vaar is, hul eerste verskyning in die hof gemaak. Lombard het die eerste keer op 18 Maart in die hof verskyn. Al vier die beskuldigdes het hul borgtogaansoeke laat vaar en word in die Pollsmoor-gevangenis aangehou. Sedert Joshlin se verdwyning is verskeie kledingstukke wat in die veld en in ’n drein by die Hoërskool Diazville gekry is vir forensiese toetse gestuur. Reagen Allen, Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, het ná Maandag se hofverskyning bevestig die klere kan glad nie met Joshlin verbind word nie.
Allen het politici en individue se verkondiging van verkeerde inligting oor die saak as oneerbiedig en onbetaamlik beskryf.
“Ek beskou diegene wat dit doen as moreel korrup,” het hy gesê, “aangesien hulle ’n jong kind se tragiese verdwyning misbruik.”
Die senior-staatsadvokaat Aradhana Heeramun het namens die staat die hof versoek om die saak tot 15 Julie uit te stel sodat die ondersoek kan voortgaan. Sy het bevestig dat die staat ’n forensiese verslag en selfoondata-uiteensetting ontvang het, wat nou ontleed moet word. Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, sal daar besluit word waar die volgende hofsitting plaasvind wanneer die onderskeie uitslae ontvang is.
Hoewel daar ’n groot teenwoordigheid van lede van die openbare-orde-polisie by die hof was, het die verwagte skare nie opgedaag nie. Daar was wel ’n politieke groepering wat van oorkant die hofgebou uitgesaai het.





