Steeds vermis: Joshlin Smith (6).


Waarom is die saak oor Joshlin Smith (6) van Middelpos, Saldanha, se verdwyning in Februarie vanjaar so stil? Waarom hou die polisie nie die gemeenskap op hoogte van elke nuwe leidraad en elke nuwe wending nie?

Hierdie is van die vrae wat lesers gedurig vra oor die wyd gepubliseerde saak waarin Joshlin se ma, Kelly Smith (33), saam met haar kêrel, Boeta (Jacquen) Appolis (31), sy vriend, Steveno van Rhyn (27), en ’n buurvrou, Renze (Lourentia) Lombaard (31), op aanklagte van mensehandel en ontvoering tereg staan.

Lombaard se saak is eers ná die tyd by die ander gevoeg en die viertal verskyn weer op Maandag 15 Julie in die Vredenburg-landdroshof.

Verloop van strafregsaak

Nadat beskuldigdes in hegtenis geneem is, vind die hofproses plaas volgens ’n vaste stel reëls en prosedures soos bepaal deur die land se strafproseswette. Die stappe sluit die inhegtenisneming, die aansoek om borgtog, die verhoor en die vonnis in.

Dit is baie belangrik dat die inhegtenisneming wettig geskied. Indien dit nie wettig gedoen word nie, sal die aanhouding van sulke mense onregmatig wees met die moontlikheid dat hulle siviele skadevergoeding kan eis teen diegene wat hulle onregmatig in hegtenis geneem het.

Die polisie het Kelly, Appolis en Van Rhyn in hegtenis geneem waarna hulle op Donderdag 7 Maart die eerste keer in die Vredenburg-landdroshof verskyn het op die mensehandel- en ontvoering-aanklagte. Daar word beweer dat hulle Joshlin aan ’n sangoma verkoop het vir R20 000.

Wanneer ’n misdaad by die polisie aangemeld word, word ’n polisiedossier geopen wat gewoonlik dokumente soos getuieverklarings en ’n ondersoekdagboek bevat.

Borgtog

In Suid-Afrika het elke beskuldigde die reg op ’n regverdige verhoor soos wat die strafproseswet en die Handves van Menseregte bepaal, en moet ’n beskuldigde binne 48 uur in ’n landdroshof verskyn.

Tydens die aansoek om borgtog kan die landdros die beskuldigde vra om te getuig oor punte waaroor daar ’n dispuut is of om verdere getuienis of inligting voor die hof te plaas sodat die hof tot ’n beslissing kan kom. Inligting soos vorige veroordelings word ook bekendgemaak en die hof hou volledig rekord van borgtogverrigtinge wat dan deel vorm van die verhoorrekord.

Die aanklaer kan ook die ondersoekbeampte vra om ’n kwessie aan die hof te verduidelik.

Omdat Kelly-hulle egter besluit het of aangeraai is om nié om borgtog aansoek te doen nie, is daar nie sulke detail oor die staat se saak bekendgemaak nie. Die polisie mag ook nie hierdie fynere besonderhede aan die publiek bekend maak voordat dit as getuienis voor die hof gedien het of as bewysstukke ingegee is nie.

Waar Joshlin-saak staan

Die strafprosedure kan in drie stadiums verdeel word: die voorverhoor, die verhoor en die naverhoor.

Die staat teen Kelly en die ander is steeds in die voorverhoorstadium, en met hul vorige verskyning het staatsadvokaat Aradhana Heeramun gesê die staat is besig om sy saak teen die beskuldigdes af te handel en dat die forensiese verslae ingedien is. Sy het benadruk dat alle inligting wat deur die polisie ontvang word, opgevolg word.

Aanklaers neem gewoonlik hul besluite op grond van wat in die dossier staan en bewyse wat ingesamel is deur die polisie of spesiale ondersoek­agentskappe, soos in die Joshlin-saak, die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad.

Die saak teen Joshlin se vermeende ontvoerders sal na verwagting weer uitgestel word, moontlik na ’n datum waarop die verhoor sal begin.

Al vier beskuldigdes moet nog pleit. Indien een van hulle skuldig pleit en die ander nie, kán die sake dalk geskei word.

Ná die pleit mag die saak egter nie meer teruggetrek word nie.

Indien daar met die verhoor voortgegaan word, kan dit moontlik begin met die staat wat verduidelik waaroor die saak gaan en hoe sy beoog om dit te bewys.

Sy sal dan die getuienis van die staatsgetuies in die volgorde van haar keuse lei. Die staat is verplig om alle inligting aan die verdediging beskikbaar te stel.

Die verdediging kan elke staatsgetuie kruisondervra nadat hulle getuienis in die hof gelewer het. Die doel van kruisondervraging is om die akkuraatheid van die bewyse te toets en feite wat die beskuldigdes se saak kan begunstig, uit te lig.

Ná kruisondervraging kan die aanklaer weer die getuies herondervra om enige onduidelikheid uit die weg te ruim.

Die verdediging kan kies om sy saak te sluit sonder om die beskuldigdes of enige getuies te roep. Dit beteken dan dat die staat se getuienis bo redelike twyfel aanvaar word.

Die hof moet die bewyse voor die hof toets en seker maak dat dit redelik sal wees om die beskuldigde skuldig te bevind.

Vonnis

Die hoofdoel van vonnisoplegging is vergelding, afskrikking, voorkoming en rehabilitasie.

’n Hof kan, voor die oplegging van vonnis, self getuies roep waar nodig om ’n regverdige beslissing en korrekte vonnis te verseker. Die beskuldigde kan ook die hof voor vonnisoplegging toespreek.

Bykomende bronne: Sarisa Swanepoel Prokureurs; prokureur.co.za. Suid-Afrika het ’n Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) onder leiding van ’n nasionale direkteur van openbare vervolging.

Die NVG stel staatsaanklaers aan wat die praktiese werk in distrikslanddroshowe en streekhowe behartig.

Die grootte van ’n hof bepaal hoeveel staatsaanklaers daar werk.

Daar is ook staatsadvokate wat hooggeregshofvervolgings en appèlsake van landdros- en streekhowe af behartig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article