Die hofsaak waarin die verdwene 7-jarige Joshlin Smith van Saldanha se ma, haar kêrel en ? huisvriend teregstaan op aanklagte van ontvoering en mensehandel vir die doel om uit te buit, is tot einde-Februarie uitgestel.
Kelly (Raquel) Smith (33) het vandag (Vrydag 31 Januarie) alleen in die beskuldigdebank in die Kaapse hoogeregshof gestaan omdat Boeta (Jacquen) Appolis (31) en Steveno van Rhyn (27) weens ? administratiewe fout nié by die Malmesbury-gevangenis gaan haal is nie.
Smith het Joshlin amper ’n jaar gelede, op Maandag 19 Februarie verlede jaar, by die Saldanha-polisie as vermis aangemeld.
Eric Ntabazlila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het ná die hofsitting aan joernaliste gesê dat die saak dalk na Saldanha geskuif gaan word sodat die gemeenskap die verhoor sal kan bywoon. ? Vergadering om te bepaal waar dit gehou sal word, sal plaasvind vóór Smith, Appolis en Van Rhyn se volgende verskyning in die hooggeregshof op Vrydag 28 Februarie.




