Die eerste dag van die verhoor van Kelly (Raquel) Smith (34), Boeta (Jacquen) Appolis (32) en Steveno van Rhyn (28) is geskuif na Maandag 3 Maart in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha.
Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, het gesê die voorverhoorkonferensies is verby en die staat en die verdediging berei nou voor om met die verhoor weg te spring. Die verhoor is op die hofrol tot 28 Maart geplaas.
Volgens Ntabazalila is alle logistieke reëlings uitgesorteer en die Veeldoelige Sentrum tot ‘n hof verklaar. “Die keuse van lokaal is om te verseker dat die gemeenskap van Saldanha en omliggende gebiede maklike toegang tot die hof het.”
Smith, Appolis en Van Rhyn staan tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel met die doel om uit te buit.
Die staat voer aan dat Kelly haar sesjarige dogter, Joshlin, ’n jaar gelede by die Saldanha-polisiekantoor as vermis gaan aangee het.
Luidens hofstukke het Kelly na bewering op Sondag 18 Februarie die kind vir voornemende “kopers” gaan wys waarna die transaksie glo beklink is.
’n Vierde verdagte, Renze (Laurentia) Lombaard (32), ’n buurvrou in die Middelpos- informele nedersetting langs Diazville, teen wie die aanklagte einde verlede jaar teruggetrek is, gaan na verwagting vir die staat getuig.
Die beskuldigdes sal al drie na die Malmesbury-gevangenis verplaas word sodat hulle nader is vir die verloop van die verhoor.
Regter Nathan Erasmus gaan die saak aanhoor.
Gaan lees gerus gratis Weslander se uiteensetting van hoe hofsake in ons land verloop hier.
Sien ook ons eenjaar-herdenkingsvideo hier.





