Joshlin: Duidelike prentjie aan’t ontwikkel oor eerste ure van verdwyning

Die drie beskuldigdes in die tydelike hooggeregshof (van links): Boeta Apollis, Steveno van Rhyn en Kelly Smith.Foto: Alida Buckle


In die eerste twee dae van die verhoor van die drie beskuldigdes in die Joshlin Smith-saak is ’n duidelike prentjie aan die ontwikkel oor die eerste ure nadat die destydse sesjarige as vermis aangemeld is.

Die hooggeregshofsaak word in die Veeldoelige Sentrum in Saldanha verhoor.

Joshlin se ma, Kelly (Raquel) Smith (34), staan saam met Boeta (Jacquen) Appolis (32) en Steveno van Rhyn (28) tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel vir die doel om uit te buit. Die beskuldigdes het Maandag (3 Maart) op al die aanklagte teen hulle skuld ontken.

Dinsdag (4 Maart) is voortgegaan met die getuienis van konst. Nanga Gongotha. Hy het op Maandag 19 Februarie 2024 op die aanvanklike klagte dat ’n kind in Middelpos vermis word, gereageer.

Hy het getuig dat Kelly meer begaan was om Boeta (haar kêrel) te kry as haar kind. Sy het vir Gongotha onemosioneel voorgekom – nie soos wat hy van ’n ma verwag wie se sesjarige kind weg is nie.

Fanie Harmse, Appolis se regsverteenwoordiger, het Gongotha die hele oggend kruisondervra, waarna Smith en Van Rhyn se regsverteenwoordigers, Nobahle Mkaboyi en Rinesh Sivnarain, enkele vrae gevra het.

Die tweede getuie, konst. Luzuko Kobese, was die aand saam met Gongotha aan diens.

Sy getuienis stem tot dusver ooreen met dié van sy kollega.

Die pleitverduideliking van die beskuldigdes moet ook nog voorgelees word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article