Die drie beskuldigdes in die tydelike hooggeregshof is, van links, Boeta Appolis, Steveno van Rhyn en Kelly Smith.Foto’s: Alida Buckle


Nie ’n enkele foto nie. Nie eens die alombekende een in haar potblou partytjierok of die een met haar hare in twee stywe vlegseltjies op die plakkate wat haar as vermis aangekondig het nie.

Volgens getuienis in die opspraakwekkende hooggeregshofsaak oor die vermiste Joshlin Smith (7), kon haar ma, Kelly Smith (34), nie een foto van haar dogter aan die polisie verskaf die aand waarop sy haar by die polisie op Saldanha as vermis aangemeld het nie.

’n Duidelike foto van ’n vermiste kind of volwassene is ’n voorvereiste wanneer iemand as vermis aangegee word, maar volgens konst. Yanga Gongotha en konst. Luzuko Kobese kon Kelly nie op Maandagaand 19 Februarie 2024 ’n enkele een te voorskyn bring nie.

Die verhoor van Kelly, Boeta (Jacquen) Appolis (32) en Steveno van Rhyn (28) het Maandag 3 Maart in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, begin. Regter Nathan Erasmus hoor die getuienis in dié gemeenskapsaal, wat as tydelike hooggeregshof dien, aan. Dit is ’n ongekende gebeurtenis vir die gebied.

Die gemeenskap het met die eerste oggend se verrigtinge die saal vol gesit, maar reeds teen Dinsdag was die aantal teenwoordiges aansienlik minder. ’n Groot teenwoordigheid van polisielede, verkeersbeamptes en buurtwaglede sorg dat die hofverrigtinge ordelik verloop.

Die beskuldigdes het die eerste dag onskuldig gepleit op die aanklagte van ontvoering en mensehandel vir die doel om uit te buit. Hul pleitverduidelikings moet nog deur die hof aangehoor word.

Gongotha én Kobese, toe lede van die eenheid vir sigbare polisiëring in Saldanha, het getuig dat hulle die eerste aand deur Kelly na verskeie plekke in Middelpos en Diazville geneem is, op soek na Joshlin én Appolis.

Dit het vir Gongotha voorgekom dat Kelly meer besorg daaroor was om Appolis op te spoor as wat sy was oor haar kind wat weg was. Sy het aan die beamptes gesê nié Joshlin of Appolis was by die huis toe sy ná werk by hul blyplek kom nie. Kelly het as huisskoonmaker in Diazville gewerk.

Kelly sit gereeld in die hof driftig en notas maak elke keer wat haar naam genoem word, terwyl Appolis en Van Rhyn met tye baie verveeld, selfs aan die slaap, lyk.

Die polisiebeamptes het getuig hulle het met Kelly in die buurt rondgery op soek na Appolis en was by haar tante toe beurtkrag om 22:00 ingeskop het. Terug by die gesin se houthuisie in Tsitsiratsitsi het hulle ene Nielo daar gekry.

Kelly kon ook nie hier ’n foto van Joshlin kry nie.

Nielo het die polisiebeamptes en Kelly na ’n opslaanhuis agter ’n huis in Talmakkiessingel geneem, waar hulle Appolis gekry het.

Kelly het hier, volgens Gongotha, weggespring en met Appolis begin praat oor die gasbottel wat sy gevra het hy dié dag moet laat volmaak. Gongotha het verwag sy sou Appolis heel eerste uitvra oor waar Joshlin is.

Dit was ook eers hier wat Kelly skielik bygelas het dat sy eintlik vir Joshlin oor middagete nog laaste gesien het. Sy het gesê sy het gou huis toe gekom om seker te maak oor die gasbottel se volmaak.

Appolis het aan die beamptes gesê hy, Van Rhyn en ’n buurvrou in Middelpos, Renze (Laurentia) Lombaard (32), het die oggend gesit en dwelms rook toe Joshlin buite saam met maatjies gespeel het.

Lombaard was aanvanklik ook ’n beskuldigde in die saak, maar die aanklagte teen haar is teruggetrek en sy gaan nou na verwagting vir die staat getuig.

Volgens wat Appolis aan die beamptes gesê het, was die laaste keer wat hy vir Joshlin gesien het toe Renze vir Joshlin gevra het om na haar slapende kind te gaan kyk.

Kobese het getuig dat Appolis baie traag was om hul vrae te antwoord en later self fisiek agteruit getree het om van hul vrae af weg te kom. “Hy het erg onder druk gelyk.”

Volgens die polisiebeamptes se getuienis het Kelly gesê Joshlin het die dag by die huis by Appolis gebly omdat sy olik gevoel het.

Die verklaring wat Kobese die aand by Kelly onder die lig van ’n flits afgeneem het, is Dinsdag aan die hof voorgelees en as bewysstuk ingedien. Die standaardvorm wanneer iemand vermis raak wat Gongotha met inligting van Appolis en Kelly ingevul het, is ook onder die loep geneem.

In die dokumente verklaar Kelly dat Joshlin die middag laas om 17:00 gesien is, geklee in ’n ligblou hempie, ’n ligblou denimkortbroek en pienk plakkies.

Gedurende die tyd wat Kelly saam met die polisiebeamptes rondgery het, op soek na Joshlin en Appolis, het sy veral vir Gongotha emosieloos voorgekom – nie soos wat hy van ’n ma verwag wie se sesjarige kind weg is nie. Sy het volgens hom sigbaar opgehelder en gelukkig gelyk toe hulle Appolis uiteindelik gekry het.

Fanie Harmse, Appolis se regsverteenwoordiger, het Gongotha Dinsdagoggend kruisondervra, waarna Van Rhyn en Smith se regsverteenwoordigers, onderskeidelik Nobahle Mkaboyi en Rinesh Sivnarain, enkele vrae gevra het.

Kobese, wat tweede getuig het, se getuienis stem ooreen met sy kollega se weergawe, hoewel Kobese in meer besonderhede getuig het oor die ure wat gevolg het nadat Joshlin as vermis aangemeld is.

Die beamptes is beide onder die indruk gebring dat Appolis Joshlin se pa is.

Kobese se kruisondervraging sou Woensdagoggend begin én die pleitverduidelikings van die beskuldigdes na verwagting voorgelees word.

Staatsadvokate Zelda Swanepoel en Aradhana Heeramun hanteer die staat se saak.

Die saak is tot 28 Maart op die hofrol geplaas. Vir dié tyd bly Appolis en Van Rhyn in die Malmesbury-gevangenis en word Smith in die selle by die Langebaan-polisiestasie aangehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article