Vanjaar word Jeugdag op eerskomende Dinsdag (16 Junie) vir die 50ste keer in Suid-Afrika herdenk – ‘n belangrike mylpaal wat die moed en opoffering van die jong mense van die 1976-Soweto-opstand onthou.
Op daardie dag het duisende leerders teen die apartheidregering se onderwysbeleid opgestaan en gewys dat die stem van die jeug ‘n kragtige instrument vir verandering kan wees.
Vyftig jaar later leef dié nalatenskap voort in jong leiers wat steeds glo hulle kan ‘n verskil maak.
Weslander het by leerders van plaaslike skole gaan aanklop om te hoor wat Jeugdag vir hulle beteken, wat hul hoop vir die toekoms is en watter veranderinge hulle graag in hul gemeenskappe wil sien.
Hoërskool Diazville
Vir Amber Talmakkies is Jeugdag veel meer as net ‘n openbare vakansiedag. “Dit herinner my aan die moed en stem van die jeug van 1976 wat opgestaan het vir hul regte en hul toekoms,” sê sy.
Amber hoop haar generasie sal bekend staan as “bouers” eerder as klaers en glo dat meer jongmense betrokke moet raak en eienaarskap van gemeenskapsuitdagings moet neem.
Haar medeleier, Tyler Parwaringirah, meen Jeugdag bewys dat ‘n mens nooit te jonk is om ‘n verskil te maak nie. “Die studente van 1976 het opgestaan vir iets groter as hulself. Dit herinner my dat leierskap nie wag totdat jy ouer is nie.”
Hy hoop jongmense sal saamwerk om geleenthede in sektore soos vissery, toerisme en landbou te benut en self werkgeleenthede te help skep. Volgens hom begin verandering wanneer mense ophou wag vir ander om probleme op te los en self begin optree. Vir Carlito Prins is Jeugdag ‘n herinnering dat jongmense wel die vermoë het om verandering te bring. “Dit motiveer my om verantwoordelik te wees en ‘n positiewe impak op die mense rondom my te hê.”
Langebaan Primêr
Nicole Matembedza en Shaun Mugwagwa, hoofmeisie en hoofseun van Langebaan Primêr, sê Jeugdag herinner hulle aan die dapper jongmense wat tydens die Soweto-opstand vir hul regte en onderwys opgestaan het. “As jong leiers leer dit ons dat kinders en jongmense ‘n positiewe verskil in hul gemeenskappe kan maak. Dit is ‘n dag om die opofferings van die jeug van die verlede te onthou en die geleenthede wat ons vandag het te waardeer.”

Die boodskap van die Weskus se jong leiers is duidelik: vyftig jaar ná 1976 leef die gees van Jeugdag steeds voort in ‘n generasie wat hoop koester en glo dat verandering by hulself begin.




