Ná 39 jaar in die onderwys lê Donny Jacobs, skoolhoof van Jurie Hayes Primêr, die tuig neer.

Sy skoolloopbaan het in 1971 begin by Steenberg’s Cove Primêr, waarna hy die skuif gemaak het na Diazville Primêr en uiteindelik na Weston Sekondêr waar hy in 1984 gematrikuleer het.

Jacobs meen ‘n groot deel van sy be­sluit om die onderwys te betree, was sy liefde vir kinders, maar ook die vele uitstekende onderwysers se inspirasie by die genoemde skole wat hy bygewoon het.

“Hul passie en toewyding in daardie jare onder moeilike omstandighede het in my geheue vasgesteek en dit het my gemotiveer en geïnspireer om ‘n onderwyser te wil wees soos al die goeies wat my destyds onderrig het. My liefde vir sport het ook grootliks bygedra om sport as ‘n positiewe middel te gebruik om kinders se fokus en balans in die lewe te help skep. As jong onderwyser is ek geleer om ten alle tye hard te werk en dat ek net my beste moes gee. So het ek deur die jare heen die trappe geklim en is bevorder tot departementshoof, toe adjunkhoof en later tot skoolhoof by Jurie Hayes Primêr waar ek 21 jaar skoolhoof was.”

Met vele hoogtepunte in sy loopbaan staan die feit dat Jurie Hayes Primêr vandag ‘n hoogs mededingende skool is uit vir Jacobs. Om die skool se hele infrastruktuur te ontwikkel en uit te bou was lonend en beslis ‘n vreugde vir hom. Hy meen landelike skole moes met min klaarkom, maar dit het hulle nooit gekeer om uitstekende gehalte onderrig aan hul leerders te bied nie.

“Ek is dankbaar dat ons Jurie Hayes bekend kon maak deur middel van aka­demiese uitnemendheid, uitstekende sport en kulturele prestasies.”

Wat Jacobs beslis gaan mis is die personeel, die nie-doserende werkers, die kinders, sport in die skool en in die Weskus regdeur die hele Boland, die lekker tye saam met kollegas, al die pret en fantastiese samesyn, die vele vriendskappe met die skool se onder­steuningsnetwerke in die gemeenskap daar buite en soveel meer.

“Vir die kinders wil ek net sê werk hard, bly ‘n betrokke en positiewe leer­der, wees gedissiplineerd, bly doelgerig en toegewyd en respekteer jou onderwysers. Droom en moenie ophou droom nie, want die armste mens is nie een sonder geld nie, maar een wat nie ‘n droom het vir die toekoms nie. Aan die opvoeders: gee net jou beste elke dag, omring jou met positiewe mense en bly positief, werk hard, leer ken elke kind in jou klaskamer en behandel elke kind asof dit jou eie kind is. Skep veiligheid en dissipline, werk met absolute passie en toegwydheid en jy sal sukses behaal.Wees lief vir almal en respekteer ook jou leerders.” Jacobs bedank graag almal wat ‘n invloed en rol in sy loopbaan gespeel het, en gee alle eer aan die Skepper vir sy genade.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article