Phillip Scott met sy kleindogter, Lisa Schoeman, in die middel. Die res van sy gesin is van links Jurgens Schoeman, Mari Schoeman, Nicola Scott, Marna Scott, Anja Scott en Danie Cillié.

Phillip Scott van Scotts-kwekery skielik oorlede

Phillip Scott met sy kleindogter, Lisa Schoeman, in die middel. Die res van sy gesin is van links Jurgens Schoeman, Mari Schoeman, Nicola Scott, Marna Scott, Anja Scott en Danie Cillié.

Die skielike afsterwe van Phillip Scott, die eienaar van die Scotts-kwekery tussen Vredenburg en Saldanha, het ‘n gemeenskap op Woensdag 3 Junie in rou gedompel.

Phillip (62), ‘n geliefde en gewaardeerde plantkundige en natuurliefhebber, se passie vir plante en sy vriendelike ingesteldheid het honderde mense geïnspireer.

Hy is op 12 Oktober 1963 in die Mowbray-­kraaminrigting in Kaapstad gebore. Hy het in Goodwood en Parow-Noord grootgeword, waar hy aan die Laerskool Raymond was voordat hy sy hoërskoolloopbaan by die Boland-landbouskool in die Paarl voltooi het.

“Phillip was op ‘n baie gelukkige plek in sy lewe. Sy familie en die kwekery was vir hom genoeg,” sê Marna Scott, sy ­weduwee. “Die kwekery is wat hy nog altyd wou doen en hy wou dit nog vir baie jare gedoen het.”

Sy glo hy was sterk genoeg om dit te nog vir baie jare te kon doen. “Sy afsterwe was skielik en ‘n groot skok vir ons.”

Die paartjie het as studente op die Universiteit Stellenbosch ontmoet, waar Phillip BSc Agric studeer het. Hulle is op 19 Oktober 1991 in die NG Moederkerk in George getroud en het drie dogters en ‘n kleindogter.

‘n Lewenslange passie

Scott het die kwekery in 2000 gestig nadat hy vir baie jare vir die Stodels-groep gewerk het. “Hy het baie bewondering vir sy vorige baas, Robert Stodel, gehad, Stodel was sy leermeester,” verduidelik Marna.

Met Marna se ouers se aftrede in die Weskus het Phillip die behoefte vir ‘n kwekery hier raakgesien.

Sy liefde vir plante het ver buite sy werksomgewing gestrek. “Plante was sy lewe – nie net by die werk nie, maar by die huis ook. Hy was ‘n absolute natuurliefhebber en het ons graag gewys en met ons gedeel as hy iets spesiaals of mooi uit die natuur gesien het.

“Hy het gedurig steggies en saadjies bymekaargemaak en iewers rondom die huis ingedruk,” onthou Marna.

Phillip Scott in sy kwekery saam met sy kleindogter, Lisa Schoeman.
Phillip Scott in sy kwekery saam met sy kleindogter, Lisa Schoeman.

‘n Geliefde mens

As die oudste van drie broers was Scott ‘n voorbeeld van broederliefde. “Hy was lief vir my en ons dogters en hy het dit feitlik elke dag gesê en gewys. Hy was trots op die vroue in sy lewe. Hy was altyd vol grappies en het daarvan gehou om ons te vermaak. Hy was regtig ‘n lekker broer, pa, man en oupa,” sê Marna.

In die gemeenskap het sy geduld, vriendelikheid en passie vir sy werk hom onderskei. “Hy het gehou van kosmaak en om elke aand sy vuurtjie aan te steek en die son te sien sak… en te gesels met elkeen wat voor die huis verbystap,” sê Marna.

Die gemeenskap se reaksie ná sy afster­we het die familie diep geraak. “Ons was oorweldig met al die blomme, kerse en briewe wat voor die kwekery se deur neergesit is. Ons het geweet hy was geliefd, maar die omvang en hoe ver die liefde gestrek het, het ons stomgeslaan,” sê Marna.

“Blomme of briefies word nog elke dag by die kwekery neergesit en mense het selfs van ver af gery, net om vir ‘n mens ‘n druk te kom gee en te sê hoeveel hy vir hulle beteken het.”

Een besondere gedagte vertroos die familie: “Dis ‘n vertroostende wete dat elkeen in die omgewing ten minste een van sy plante of blomme wat hy persoonlik oorhandig het, in hul tuine het. Ons kan nie genoeg dankie sê nie.”

Nalatenskap leef voort

Die familie beplan om Phillip se werk voort te sit. “Ons is bewus daarvan dat dit groot skoene is om vol te staan, maar ons as ‘n familie sal wil voortbou aan sy nalatenskap, want ons beleef hom elke dag by die kwekery, net deur daar te wees,” sê Marna.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 11 June 2026
    Weslander E-Edition – 11 June 2026

Gift this article