Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
• Piketberg: ‘n Poging-tot-moord-saak is in Piketberg aangemeld nadat ‘n man in ‘n Ford Ranger-bakkie ‘n polisiebeampte byna omgery het. Die voorval het Saterdagaand (30 Mei) omstreeks 23:30 naby die Meintjieskraalplaas plaasgevind. Die bestuurder van die bakkie het versuim om by ‘n roetine-padblokkade stil te hou. Hy het ‘n verkeersbeampte se bevele verontagsaam en weggejaag. Die verkeersbeampte en polisie het die man gevolg en voorgekeer. Die beampte het twee keer probeer om die man se alkoholvlak deur middel van ‘n ‘asemtoetser’ te toets. Die man is gevra om uit sy bakkie te klim, maar het weer weggejaag. Die polisiebeampte het hom tot by sy woning agtervolg en uitgeklim (om met die verdagte te praat) en die man het weer probeer wegjaag. Hy het toe die polisiebeampte amper omgery.
• Vredenburg: ‘n 36-jarige man is Saterdagaand (30 Mei) omstreeks 23:00 in sy regterknie geskiet terwyl hy van aanvallers in Wilgerstraat in Witteklip, Vredenburg, probeer vlug het. ‘n Saak van poging tot moord word ondersoek.
• Lambertsbaai: Die lewelose liggaam van die 18-jarige Angle Leeroy is op Saterdag 23 Mei omstreeks 04:30 in Swartz-singel gevind. Omstreeks 08:30 dieselfde dag is ‘n 26-jarige man se wendy-huis aan die brand gesteek omdat inwoners in die gebied beweer het hy steek die moordenaar weg. ‘n Klagte van brandstigting word ondersoek. Linex Daniels (26) het op 25 Mei op aanklag van die moord op Leeroy in die hof verskyn.
• Langebaan: Boitumelo Kgoele (38) en Thandile Mayile (28) is verlede Woensdag (27 Mei) in ‘n kettingwinkel in Laguna Mall aangekeer toe hulle verby die betaalpunt gestap het – blykbaar sonder om vir hul kruideniersware te betaal.
• Laaiplek: ‘n 31-jarige man sal op Woensdag 7 Oktober in die Laaiplek-hof op ‘n aanklag van dronkbestuur verskyn. Die man het Vrydag (29 Mei) omstreeks 18:40 met sy BMW X4 voor die verkeer uit ‘n sypad voor Laaiplek se nuwe winkelsentrum ingedraai en teen ‘n Citi Golf gebots.





