Voormalige werkers by die Saldanha-ouetehuis het hul kommer uitgespreek oor werksomstandighede en kwessies wat al ‘n geruime tyd aan die gang is.

Volgens dié werkers het hulle in swak omstandighede gewerk en is hulle dikwels sonder behoorlike ondersteuning gelaat.

Werkers het met Weslander gedeel dat een van die belangrike kwessies is dat versorgers nie betaal word volgens die minimumloon soos die arbeidswet vereis nie, en selfs nadat hulle die tehuis se diens verlaat het, is daar steeds ‘n gestoei vir werkloosheidsfondsgeld en ander uitstaande betalings.

Volgens ‘n werker, wat anoniem wil bly uit vrees vir vervolging, word daar dikwels mense afgedank wanneer die werkgewer nie salarisse kan of wil betaal nie, eerder as om formele afdankingsprosesse te volg. Die einste werker wag al sedert 2024 vir geld wat uitstaande is.

Verder beweer werknemers dat daar geen personeelbestuurder of werknemerwelstandstelsel in plek is om probleme billik te hanteer nie. Veranderings in werksmetodes word glo ingestel sonder konsultasie met werknemers.

Toegesmeer

Sommige werknemers beskuldig die bestuur van intimidasie en “bully tactics”, waar werknemers wat hul stem dik gemaak het, afgedank of geïgnoreer is.

Daar is ook klagtes van nepotisme en bevoordeling van sekere werknemers, asook ongelyke betalings tussen werknemers. Volgens werknemers word personeel gereeld aangestel en afgedank wanneer hulle beter salarisse eis.

Veiligheidskwessies is ook uitgelig, met bewerings dat daar geen brandoefeninge plaasvind nie en dat probleme by die ­tehuis dikwels toegesmeer word en net die “goeie kant” aan die publiek gewys word.

Gedetailleerde vrae aan die ouetehuis soos of die ouetehuis by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling as ‘n tehuis vir ouer mense geregistreer is, is beantwoord met ‘n bewys dat die ouetehuis as ‘n nie-winsgewende maatskappy geregistreer is. Dit is nie dieselfde registrasie soos wetlik vereis deur die departement nie.

Volgens raadslid Suritha du Plessis, wat sedert Weslander se ondersoek begin het, as menslikehulpbronkonsultant vir die tehuis begin optree het, is die Wet op Basiese Diensvoorwaardes en die Wet op Arbeidsverhoudinge baie duidelik oor hoe geskille tussen werkgewers en werknemers hanteer moet word. Sy meen werknemers het die geleentheid om sodanige klagtes by die Departement van Arbeid in te dien, wat dit sal ondersoek en geskille probeer oplos deur bv. ‘n instansie soos die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie. “Aangesien die betrokke klagtes reeds deur die klaer by die departement aangemeld is, en daar tans ‘n saak aan die gang is, is dit nie geskik om dit in die media te probeer oplos nie. Ons wil nie in ‘n persoonlike moddergooiery met ‘n voormalige werknemer betrokke raak nie, aangesien dit albei partye se beeld kan skade doen. Ons is verder van mening dat persoonlike geskille van hierdie aard, veral waar werknemers se gedrag, vergoedingspakket ens. ter sprake is, as vertroulik hanteer moet word. Dit is beslis nie in die openbare belang nie. Ons gaan dus in hierdie stadium geen kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie en sal deur die amptelike proses ­verneem watter bewyse daar vir die genoemde ­bewerings is, en dit dan verder hanteer.”

Registrasie en nakoming van vereistes

Du Plessis meen die tehuis het tot stand gekom uit ‘n private persoon se inisiatief en liefde vir bejaardes. Sy het ‘n week gelede laat weet dat hoewel die bestuur nou met die proses van registrasie begin het, die volhoubaarheid van die tehuis van die begin af in die weegskaal was en dit probeer het om eerder met bestaande geregistreerde instansies saam te smelt.

In Februarie is finaal besluit om die tehuis in Saldanha te behou, weens die enorme behoefte aan versorging vir verswakte bejaardes. Du Plessis het die versekering gegee dat die registrasieproses hervat is. Sy het ook gesê ‘n konsultant is ­aangestel om ondersoek te doen en ­aanbevelings te maak oor die wetlike vereistes vir die ouetehuis en die nakoming daarvan. Du Plessis het benadruk die tehuis bly toegewyd tot die diens wat hulle lewer. “Die inwoners en hul families is almal baie tevrede en gelukkig met wat die tehuis bied.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 4 June 2026
    Weslander E-Edition – 4 June 2026

Gift this article